Nora Grose, die Subraad 1-voorsitter, wat glo gehoop het die klagte van korrupsie en bedrog teen haar sal deur die plaaslike hof uitgeskop word, het Vrydag (30 Julie) ’n terugslag gehad.
Grose se saak is na die Bellville-handelshof oorgeplaas. Emma Powell, die DA se politieke hoof vir die gebied, het ná Grose se vorige verskyning in ’n verklaring gesê sy gaan aansoek doen om haar saak van die rol te laat skrap indien die Valke nie gereed is om met die verhoor te begin nie.
Nou sal Grose egter Maandag 30 Augustus saam met Ruben Swartz in die handelshof verskyn. ’n Bedrag geld – net minder as R172 000 – is verlede jaar in opdrag van Grose aan Life Changers oorbetaal. Die skenking van die burgemeester se Covid-19-verligtingsfonds kon glo nie aan dié organisasie oorbetaal word nie, omdat Life Changers nie aan die Stad se vereistes voldoen het.
Sarco, ’n plaaslike organisasie, is vermoedelik toe gebruik om die geld te bekom.
Die drama het ontvou toe Sarco vir ’n afsonderlike geval deur die Valke ondersoek is. Die organisasie is daarvan verdink dat dit spookwerkers geregistreer het om TERS-geld van die departement van arbeid te eis.
Die Valke het tydens hierdie ondersoek teen Sarco op die “omstrede transaksie” tussen die organisasie en Life Changers afgekom.
Konrad Brettschneider van Life Changers-kerk het in September verlede jaar in ’n e-pos aan subraad 1 gesê die kerk het geen kospakkies vir wyk 23 versprei nie en die kerk sal weens die feit dat “kerke weer oopgestel is, nie kan voortgaan met die projek nie” en het die bestuur van die projek terug aan Grose gegee.
Brettscheider het ook in die e-pos geskryf “Grose het aangedui dat sy weens verskeie redes by die Stad gaan aanvra vir verlenging van tyd vir die uitdeel van die kospakkies”.
Dit is egter onduidelik of enige kospakkies uitgedeel is aangesien geen verslag oor Grose se projek ingedien is nie. Volgens Lyndon Khan van die burgemeester se kantoor is die kwessie tans in die hof en sal geen kommentaar in die stadium gelewer word nie.
Volgens Fiona Abrahams, die ANC- proporsionele raadslid, het sy by verskeie subraad 1-vergaderings vir die verslae gevra. Volgens Brett Herron van Good het hulle verskeie dokumente, wat aan hulle gelek is, aan die Valke oorhandig wat glo bewys Grose was persoonlik by die projek betrokke terwyl raadslede “glad nie betrokke moes raak nie”.
Swartz sal op twee verskillende aanklagte verskyn – bedrog (TERS-geld) en geldwassery saam met Grose.
Powell het intussen gerugte ontken dat Grose deur die party gevra is om vir eers terug te staan.
Powell het bevestig Grose bly aan as raadslid en subraad 1-voorsitter.


