Subraad 1-voorsitter, Nora Grose, het haarself vanoggend aan die polisie oorhandig.

Verskaf

Nog ’n politieke terugslag het die regerende DA in die Stad Kaapstad getref toe ’n senior raadslid en Subraad 1 se voorsitter, Nora Grose, haarself Donderdag 20 Mei aan die Valke oorgegee het.

Grose het vroeër vanoggend met haar regsverteenwoordiger by die Atlantis-polisiekantoor opgedaag nadat klagtes van bedrog en geldwassery teen haar aanhangig gemaak is deur die spesialiseenheid.

Die voorval spruit uit burgemeester Dan Plato se Covid-19-verligtingsprogram wat van stapel gestuur is na die pandemie verlede jaar getref het. Na bewering is dié geld nie aangewend om behoeftiges in die gemeenskap te help nie.

Grose het reeds in die Atlantis-hof verskyn op die twee klagte en is op R10 000 borg vrygelaat. Sy is ook voorgesê om nie met getuies te meng nie en moet Vrydag in die handelshof in Bellville met haar mede-beskuldigde, Reuben Swartz, verskyn.

Swartz, voorsitter van die organisasie SARCO wat die kospakkies moes aankoop en versprei, is verlede jaar by sy werk aangekeer.

Emma Powell, die DA se politieke hoof vir Atlantis, het nog nie reageer op vrae of die party gaan optree teen die raadslid nie.

Volgens ANC-raadslid Fiona Abrahams, woordvoerder van die opposisie in die subraad, moet Grose bedank as voorsitter. Abrahams het in ’n verklaring gesê daar moet dringend na Plato se verligtingsprogram gekyk word en die DA moet antwoorde aan die gemeenskap bied oor die affêre.

Abrahams meen die aantygings is skokkend aangesien die geld vir armes bedoel was en sê die opposisie het gereeld in Subraad 1-vergaderings gevra vir ’n volledige verslag, maar “dit is nou duidelik hoekom die verslag nooit beskikbaar gestel kon word nie”.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek gaan nog inhegtenisnemings volg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article