Opposisie-politici meen die Kaapstadse stadsraad moenie Nora Grose se regskostes betaal nie.
Dit volg nadat Grose, voorsitter van Subraad-1, haarself aan die Valke oorgegee het in verband met klagtes van bedrog en geldwassery wat teen haar ondersoek word. Die klagtes teen Grose, ’n DA-raadslid, spruit uit geld wat vanuit die munisipale Covid-19-verligtingsprogram vir kospakkies beskikbaar gestel is. Dié pakkies sou deur ’n organisasie aan behoeftige inwoners uitgedeel word. Die organisasie wat Grose egter identifiseer het om die pakkies te behartig, die Life Changers-kerk het glo nie aan die Stad se vereistes voldoen nie. Grose het toe die plaaslike organisasie Sarco gebruik om die geld te bekom, gesien dié organisasie aan die Stad se vereistes voldoen het. Grose sou dan na bewering die geld dan vanaf Sarco na Life Changers laat oorplaas.
Die Valke het die kerk se rekening laat vries. Van die geld is nog oor, wat baie vrae laat ontstaan.
Hoewel leiers in die stadsraad en party glo Grose het niks verkeerd gedoen nie, braak die opposisie glo gal omdat die Stad haar regskostes betaal. Volgens Felicity Purchase, die nuut verkose speaker van die Kaapse stadsraad, is besluit om regsbystand aan Grose te gee omdat sy in haar plig as raadslid opgetree het. Raadslede se betrokkenheid by sulke finansiële transaksies, soos dié waarvan Grose beskuldig word, is egter teenstrydig met die wet op munisipale finansiële bestuur. Dié wet bepaal raadslede mag nie onder enige omstandighede betrokke raak by onderhandelinge en finansiële kontrakte met diensverskaffers nie. Weskus Nuus is in besit van e-pos wat Grose op 10 Julie 2020 aan Reuben Swartz, Barbara Rass en Joy McCarthy gestuur het waarin sy opdrag gee die geld moet dadelik aan Life Changers oorbetaal word sodra dit in Sarco se bankrekening wys. Vrae ontstaan nou of Grose spesiale toestemming gekry het om direk by die oorbetaling van die Covid-19-verligtingsprogram-geld betrokke te wees. Volgens ’n organisasie wat sy kontrak met die verligtingsprogram vir die koop en uitdeel van kospakkies nagekom het, het hy opdrag gekry dat geen raadslid betrokke mag raak in die koop of uitdeel van die kospakkies nie en slegs die organisasie van begunstigdes moes verskaf. Swartz, Sarco se voorsitter, is saam met Grose aangekla. Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, het in ’n verklaring gesê Grose het nooit in haar rol as ’n raadslid opgetree nie, wat dus regsbystand van die munisipaliteit onwettig maak. Hy meen die strafregtelike ondersoek het niks met Grose se werk as raadslid te doen nie. Hy sê dit is “duidelik dat sekere mense spesiale behandeling kry”. Emma Powell, die DA se politieke hoof vir die Atlantis-gebied, sê sy sal na afloop van die hofsaak kommentaar lewer. Grose verskyn weer 21 Junie in die hof.





