Nora Grose, wat in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en geldwassery, is as proporsionele raadslid in wyk 32 ontplooi.Foto: Murphy Roberts


Nora Grose, voormalige wyksraadslid (wyk 23) en subraad 1-voorsitter wat tans voor die hof verskyn op aanklag van bedrog en geldwassery, is weer terug in Atlantis as proporsionele raadslid vir wyk 32. Met die moontlike inlywing van wyk 107, wat dele van Tableview en Parklands insluit, gaan subraad 1 nou twee voormalige subraad-voorsitters hê, wat die kanse dat een van die twee plaaslike wyksraadslede tot die pos verkies kan word, bykans onmoontlik maak.

Die Stad het tans 116 wyke en 24 subrade. Dit kan egter verander na 21 subrade nadat die ondersoek teen die verandering van grense afgehandel is.

Weskus Nuus wou by die burgemeester weet of dit beteken dat Nicky Rheerder, wat die raadslid vir wyk 107 en ook die voorsitter van subraad 3 is, nou die nuwe voorsitter van subraad 1 gaan wees. Rheeder en nog raadslede het ná die 2016- plaaslike verkiesing teen die besluit gestem dat die nuwe subraad 1 na Atlantis moet skuif en het ook ’n petisie daaroor opgestel.

Weskus Nuus het vroeër berig dat politieke partye meen dit is interessant dat die subraad gaan skuif en vermoed Rheeder is met die voorsitterwortel na Atlantis gelok.

Grose se drama het begin toe sy glo in 2020 opdrag gegee het dat ’n bedrag aan Life Changers betaal moet word. Dié geld (uit die burgemeester se Covid-19-verligtingsfonds) kon glo nie aan dié organisasie oorbetaal word nie omdat Life Changers nie aan die Stad Kaapstad se vereistes voldoen het nie. Sarco, ’n plaaslike organisasie, is vermoedelik toe gebruik om die geld te bekom.

Dit is egter onduidelik of enige kospakkies uitgedeel is aangesien geen verslag oor Grose se projek ingedien is nie.

Volgens Lyndon Khan, van die burgemeester se kantoor, dien die saak voor die hof en kan geen kommentaar nou gelewer word nie.

Grose en haar medebeskuldigde, Ruben Swartz, sal op 9 Februarie weer in die Bellville-handelshof verskyn.

Volgens Brett Herron van GOOD moes Grose nooit ’n raadslid geword het nie omdat sy op ernstige aanklagte in ’n hofstryd gewikkel is.

Herron meen wat dit erger maak, is “dat die geld vir die armste van die armstes bedoel was”.

“Hoe kan hulle haar ontplooi in ’n gebied waar sy inwoners benadeel het? Hulle moes haar baie ver van Atlantis gehou het,” vra Herron.

Anastasia Davids, van die Cape Coloured Congress, sê met Grose terug by subraad 1 kan dit moontlik betogings en spanning aanwakker.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article