Die Atlantis-gemeenskapspolisieforum (GPF) saam met nuut verkose wyksraadslede en die subraad 1-bestuurder, Wessie van der Westhuizen, het Vrydag (5 November) skouer aan die wiel gesit met ’n reeks vergaderings om kwelpunte die hoof te bied.
Onder die probleme wat deur die gemeenskap uitgewys is, is onwettige huiswinkels “wat soos paddastoele opspring het” asook Wesfleur-hospitaal.
Volgens Abdul Tajodeen, die GPF-voorsitter, kry hulle daagliks klagtes van inwoners dat buitelanders net winkels oprig sonder om die reëls te volg. Van der Westhuizen het gesê dit is ’n probleem wat gereeld deur munisipale amptenare teëgekom word.
Hy sê in baie gevalle kry die Stad nie die samewerking van die huiseienaars nie en word amptenare daarvan beskuldig dat hulle inwoners van ’n inkomste wil ontneem.
Volgens Tajodeen beweer inwoners sommige huiswinkels word ook as dwelmneste gebruik.
Die forum het ook sy bekommernis uitgespreek oor bewerings dat jong meisies glo hier as seksslawe gebruik word.
Die twee nuwe wyksraadslede, Moosa Raise (wyk 32) en Allister Lightburn (wyk 29), het by die vergadering gesê sodra die nuwe burgemeesterskomitee saamgestel word, sal hulle daadwerklik aan die probleem werk.
Die probleem van inwoners wat soggens vroeg in koue en nat weer buite die hospitaal moet wag om gehelp te word, se dae is ook getel, volgens die raadslede. Die groep het die hospitaal besoek ná verskeie klagtes en uitroepe vir hulp aangehoor.
Dr. Earl Meyer, hoof van die hospitaal, het die groep gewys waar die ideale plek is waar mense kan wag.
Volgens Meyer het hy reeds kwotasies gekry om opgraderings aan te bring, maar sukkel om die nodige finansiering te kry.
Tajodeen het R30 000 vir die oprigting van ’n afdak geskenk, waarna die politici ook belowe het om te help om nog geld te bekom.
Die groep beoog dat die skuiling voor die volgende winter sal klaar wees.



