Die Atlantis Bloukrans se seniorklub, wat aan die distrik- Goue Spele op die Vygiesskraal-atletiekbaan in Athlone deelgeneem het.


Die departement van sport en ontspanning het Woensdag 29 November in vennootskap met die departement van maatskaplike ontwikkeling die jaarlikse distrik- Goue Spele vir ouer mense by die Vygieskraal-atletiekbaan aangebied.

Die Goue Spele bevorder aktiewe oud-word en sosialisering onder mense wat in hul goue jare is.

Atlantis, wat ook deel van die Kaapse Metropool is, se senior burgers het ook aan die Goue Spele deelgeneem.

Martin de Villiers (Oom Diffie) het sy staal vir seniors tussen 60-69 jaar in die 100m-naelloop gewys.

Die Goue Spele word sedert 2011 jaarliks aangebied met die distrik- en die provinsiale byeenkomste, gevolg deur die nasionale byeenkoms, waar die bejaardes hul talente in sport, inheemse speletjies, prettige speletjies en tradisionele of kulturele aktiwiteite ten toon stel.

Die nasionale byeenkoms vir die bejaardes is vanjaar uitgestel weens tegniese probleme, maar die organiseerders hoop dit sal volgende jaar soos oudergewoonte weer aangebied word.

Hoewel nie baie sportkodes tydens die distriksbyeenkoms plaasgevind het nie omdat baie van die distrikte nie teenwoordig was nie, het die senior deelnemers wat wel vir die spele opgedaag het, dit baie geniet.

Die bal-aflos het gewis ook die aandag getrek aangesien meer as 10 spanne deelgeneem het.

Een van die opwindendste wedlope van die dag, was die gans-wedloop, waar deelnemers omtrent 50 m met drie balle moes aflê – een tussen die bene en een elk onder die arm.

Die 100-m-naelloop is weer eens deur Atlantis se blitsige Oom Diffie gewen toe hy sy teenstanders stof in die oë geskop en steeds gewys het hy is die metropool-kampioen toe hy die naelloop afgeblits en drie meter voor sy naaste teenstaander klaargemaak het.

Volgens Oom Diffie was dit ’n “baie goeie dag vir die senior burgers”. “Hulle het die uitstappie Athlone toe gewis geniet,” het hy gesê. Die middag is met ’n sokkerwedstryd tussen die vrouespanne van Athlone en Gugulethu afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article