Janice Cupido is hier voor haar deur afgemaai nadat sy die strykyster by die bure wou gaan haal.Foto: Murphy Roberts


Die familie van Janice Cupido (40) meen haar moord is haarfyn beplan nadat sy Maandagaand afgemaai is.

Cupido is Maandag (25 Januarie) voor haar huis in Shelly Court, Avondale, doodgeskiet.

Volgens Cupido se pa, wat anoniem wou bly, het sy dogter by familie in die Kaapse voorstede gaan woon toe sy ná byna twee jaar besluit het om in die saak oor die moord van Faakhir Moosa te getuig. Moosa is op 30 Junie 2016 wreed vermoor. Sy liggaam is met 13 steekwonde en vergruisde skedel op ’n landjie in Avondale gevind.

Volgens Cupido se man, wie ook nie sy identiteit bekend wou maak nie, het sy vrou die Saterdag voor haar dood kom kuier, omdat sy verlang het.

“Ons het gesit en kaart speel. Dié noodlottige aand het iemand aan die deur geklop, maar wou nie sê wie dit is nie, dus het ons nie oopgemaak nie.”

Hy sê sy dogter se kêrel het ook na haar kom soek. “Ons het gesê waar hy haar waarskynlik kan kry.”

Die hartseer man vertel sy vrou sou die volgende dag na haar familie in die Stad terugkeer en het besluit om ’n strykyster by ’n buurvrou te gaan haal en haar klere vir haar reg te kry.

“Sy het net uit die huis gestap toe die skote klap,” vertel hy.

Die familie het hewig uitgevaar oor gerugte op sosiale media dat die oorledene onder getuiebeskerming was en dat sy gekom het om die polisie te sê sy gaan nie getuig nie.

“Dit is baie ontstellend vir ons omdat sy nooit onder getuiebeskerming was nie. Sy het by familie gekuier. Sy het geweet daar was risiko’s [om te getuig], maar was bereid om te waag,” vertel die familie.

“Janice het gekom omdat sy haar man en kinders mis, en vir geen ander rede nie,” vertel die familie.

Volgens Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, word ’n klag van moord ondersoek en geen verdagtes is nog aangekeer in verband met Cupido se dood nie.

Die polisie het destyds ses verdagtes vir Moosa se moord aangekeer en vier is in November verlede jaar op borgtog van R1 500 vrygelaat.

Die ander twee is steeds in aanhouding. Die ses verdagtes in die Moosa-saak verskyn weer Vrydag 19 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article