Ongevoelig, hardvogtig, onbeskof en gevoelloos.

Dít is hoe inwoners van Atlantis op sosiale media gal gebraak het nadat verkeersbeamptes tydens ’n gesamentlike optrede verlede Donderdag (22 April) taxi’s hier geskut het.

Die optrede het groot drama veroorsaak toe die skoolbussie van Emmanuel-dagsorgsentrum afgetrek is. Die dagsorg se bussie is deur die manne in blou afgevat terwyl die gestremdes letterlik op straat moes sit en wag.

“Ek het by die beamptes gesoebat en gepleit dat hulle eers net die kinders by die sentrum moes aflaai, omdat hulle hul medikasie betyds moes kry,” vertel Gerswin Andrews, wat bestuur het.

“Hulle het eenvoudig geweier en net gesê die bussie gaan nêrens.”

Volgens Andrews was hy en twee versorgers met sewe kinders onderweg en moes nog een gaan oplaai. “Ek is omtrent drie km van die sentrum af voorgekeer en beveel om uit te klim. ’n Vroulike beampte het gesê die bussie gaan nêrens heen nie en het self agter die wiel gespring en dit na die plek geneem waar die ander mini-bus taxi’s staan. Ek het verduidelik van die kinders, maar die beampte wou nie luister en net gesê my papiere is nie reg. Maar hulle kon nie sê wat ‘nie reg nie’ beteken,” sê hy.

Andrews sê die kinders het paniekbevange geword en ’n driejarige gestremde het begin siek word terwyl die ander as gevolg van die sirenes “buite beheer begin raak het”.

“Mooipraat het nie gehelp nie en ek is aangesê die kinders moet uitklim, want die bussie gaan nou Groenpunt toe. Dit was regtig nie ’n mooi gesig nie en ons moes magteloos toekyk hoe die kinders histeries op die sypaadjie sit terwyl ons vir hulp van die sentrum wag.”

Volgens Joyce Anderson, wat dagsorgsentrum bestuur, is dit die eerste keer in hul 22-jarige bestaan dat so iets gebeur. Sy meen die beamptes het eenvoudig nie vir die kinders, wat hul medikasie en pap ’n sekere tyd moet kry, omgegee nie. Sy sê ook die skut van die bussie was slegs die begin van hul frustrasies. “Ek het self verduidelik die bussie, wat so gemerk is, vervoer spesiale passasiers en is nie ’n minibustaxi nie, maar niks het gehelp nie. Nie eens die kinders se histeriese optrede het ’n reaksie gekry nie. Ons sukkel reeds weens hoë brandstofpryse om kop bo water te hou. Dit het weer byna R2 000 se uitgawe gekos om die bussie terug te kry omdat ons twee dae rond en bont gestuur is,” sê Anderson.

Moosa Raise, die wykraadslid, sê hy sal die saak opvolg en laat ondersoek “veral omdat die gestremde kinders so getraumatiseer was”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article