Inbrekers het ’n familie van Beacon Hill meer skade aangedoen as wat hulle kon buit.
Dié skurke het Vrydagnag, 13 September, by die Smith-familie se motorhuis ingebreek, maar kon niks waardevol kry en het die motorhuis toe aan die brand gesteek.
Volgens die inwoner, Jerome Smith, het hy net voor 02:00 van ’n klopgeluid uit die motorhuis wakker geword. “Ek het gesien die motorhuis brand en die vlamme was reeds besig om na die huis te versprei. Die plek was gou onder die vlamme,” vertel hy. “Ek kon net my vrou en seun na veiligheid bring en die huis was binne minute aan die brand,” vertel hy emosioneel. “Ons is net dankbaar dat niemand seergekry het nie en die brandweer en polisie was gelukkig gou op die toneel.”
Volgens ’n buurvrou, wat anoniem wil bly, loop daar gedurig “vreemde gesiggies” in hul buurt rond en is 02:00 glo die tyd wat niksvermoedende inwoners geteiken word.
“Ons loop gereeld onder die skurke deur en ek het mans net ná die brand sien wegstap,” vertel sy.
Volgens Smith is daar reeds ’n paar keer al by sy motorhuis ingebreek, maar nooit in sy wildste drome het hy gedink dat die skurke die plek aan die brand sou steek nie.
Die familie se huis en meubels is in die brand verwoes en hulle bly tans by familie. Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, is ’n dossier aangelê. Teen druktyd is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Weskus Nuus en Radio Atlantis het ook gehelp om die gesin van noodsaaklikhede te voorsien.


