Die dorp moet eers genees.
Dit was die boodskap tydens ’n opvolgvergadering op Dinsdag 4 Februarie oor die kwellende misdaad waaronder Atlantis die afgelope maande gebuk gaan. Senior polisieamptenare was ook by die vergadering waar kol. Mario Thyse, die stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, die tema “Heal Atlantis” bekend gemaak het in ’n poging om die dorp ’n veiliger plek vir die gemeenskap te maak.
Volgens Thyse sal organisasies en lede van die gemeenskap ’n taakspan onder leiding van die plaaslike polisieforum vorm. Die doel van die taakspan is om met idees vorendag te kom om strate weer veilig te maak, het Thyse gesê. Die taakspan is gevorm na aanleiding van die polisie se Imbizo vroeg in Januarie, verduidelik Thyse.
Volgens Pieter Stoffberg, ’n gemeenskapsaktivis, is die genesing van die dorp die eerste stap om misdaad hok te slaan. Politieke leiers, gemeenskapsleiers, geestelike leiers en alle ander leiers moet nou vir eers hul ego opsy skuif, meen hy.
Stoffberg het gal gebraak oor leiers wat nie mekaar ondersteun as iets nie deur hulle gereël word nie. “Hulle is deel van die probleem en hou die gemeenskap gevange met hul ego’s,” het hy gesê. Volgens Stoffberg sal al die politieke leiers in Atlantis na ’n vergadering genooi word en sê dié wat nie belang stel nie, moet blootgestel word. Geestelike leiers moet ook om een tafel sit omdat een of twee pastore nie alleen ’n verskil kan maak nie.
“Dieselfde geld vir staatsdepartemente,” sê hy.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation is die toename in gesinsgeweld en seksuele oortredings kommerwekkend. Passenz het gevra dat Atlantis sy eie eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings moet kry, wat doeltreffend kan optree aangesien slagoffers baie kere mismoedig raak omdat hulle lank moet wag voordat die eenheid uit Milnerton kom.
Passenz het ook gevra indien Atlantis nie sy eie eenheid kan kry nie, die mannekrag en ander hulpbronne aangepas moet word om na dié nood te kan omsien.
Volgens die biskop Moses Magerman van die geestelike misdaadvoorkomingstaakspan is dit belangrik dat alle rolspelers na die tafel kom. Volgens Magerman het hy en sy span reeds ’n misdaadaksieplan saamgestel wat gereed is om in werking gestel te word. Magerman verduidelik “die geestelike misdaadvoorkomingstaakspan mobiliseer geestelike organisasies om saam te werk in die stryd teen misdaad”.
Volgens Thyse gaan die taakspan gereeld vergader en kom hulle op Woensdag 19 Februarie weer bymekaar. Thyse het ook voorstelle wat uit die eerste vergadering gekom het as riglyne vir die veldtog om die dorp weer veilig te maak, bekend gemaak.
Dit sluit onder meer in die Genees Atlantis-inisiatief, Sport teen misdaad, petisies om misdadigers in aanhouding te hou, meer patrollies in brandpuntgebiede, skoolveiligheid, ’n geestelike misdaadvoorkomingsveldtog, meer buurtwagte, meer bewusmaking van geslagsmisdaad, bewusmaking oor dwelmmisbruik en bewusmaking oor strukture in die polisie.





