Jomo’s Power AFC, die mees suksesvolle sokkerklub van die Atlantis- Plaaslike Sokkervereniging (APSV) het die 2024-’25-sokkerseisoen verlede Saterdag (2 November) teen Trinitarians op ’n hoë noot afgeskop.
Jomo’s Power AFC het gemengde welslae in die eerste en tweede Nedbank-Bekeruitklopwedstryde van die seisoen behaal. In sy eerste wedstryd het hy Trinitarians op die Robinvale-sportkompleks gepak en eers ná 105 minute sukses behaal. Hy was egter onsuksesvol op die Royal Road Sportterrein waar Silver Spurs hom met 3-1 geklop het.
Die wedstryd op Robinvale, wat voorafgegaan is deur die APSV se uitklop-eindstryd, het teen ’n vinnige pas afgeskop. Uitstekende balvernuf en tegniek is aan sokkergeesdriftiges ten toon gestel.
Jomo’s Power AFC, een van die spanne met die jongste spelers in die kompetisie, het die bal uit die staanpoor die praatwerk laat doen, maar ongelukkig kon sy doelskieters net nie die net vind nie.
Trinitarians het die min ervaring van Jomo’s Power AFC se jong spelers uitgebuit en gewys dat jy jou kanse moet gebruik as jy wedstryde wil wen. Trinitarians se twee doele voor rustyd het die tuisspan en ondersteuners ongemaklik gelaat, maar almal het gehoop dat Jomo’s Power AFC in die tweede helfte sal terugslaan.
Die ontplooiing van die gesoute en evare speler Monro van Graan saam met ander reserwespelers het weer eens gewys watter invloed vars spelers kan maak. Van Graan se ervaring het gewis op die veld uitgestaan aangesien hy stabiliteit in die middelveld gebring het met kalmte wat Jomo’s broodnodig gehad het.
Jomo’s, wat toe met meer vuur gespeel het, het Trinitarians onder druk geplaas, wat tot Jaden Casnur aangevoer het om Jomo’s se eerste doel in die 70ste minuut in die tweede helfte te behaal ná puik spel deur die middelveldverdedigers.
Casnur het ’n goed geplaaste lugskop in die 80ste minuut vir Keaton Rossouw in die strafgebied gevind, wat die bal met ’n uitstekende kopskoot verby Trinitarians se doelwagter vir die gelykmaker geskiet het.
Die wedstryd het ná gewone tyd met 2-2 gelykop geëindig. Die stryd is daarna met doelskoppe beslis, wat Jomo’s Power AFC 4-2 gewen het en hom laat deurgedring het tot die tweede ronde teen Silver Spurs. Ongelukkig is hy verlede Sondag (3 November) op die Royal Road-sportterrein in Maitland deur Silver Spurs met 3-1 geklop.
Die afgelope Sondag (10 November), het Jomo’s Power AFC die amptelike 2024-’25- Hollywood Bets-sokkerkompetisie (derde liga) van SASV teen Matroosfontein op die Saxonsea-sportterrein afgeskop.
Jomo’s Power AFC het egter teleurgestel en is met 2-1 geklop nadat hy die eerste helfte oorheers het.
Die span hoop om hierdie seisoen veel beter te vaar ná ’n teleurstellende vertoning in die 2023-’24-seisoen toe hy 12de uit 18 geëindig het.




