’n Groep toegewyde inwoners van Atlantis het die inisiatief te midde van die Covid-19-pandemie geneem en die WAMP Foodbank op die been gebring.
Met die inisiatief beoog die vrywilligers om niebederfbare voedsel in te samel, kospakkies op te maak en aan hulpbehoewendes in die Atlantis-gemeenskap te oorhandig.
Volgens een van die stigterslede, Glodene Heugh, het die lede van WAMP Foodbank na verskeie ondernemings en die gemeenskap uitgereik en was hulle bly oor die reaksie wat hulle gekry het – skenkings is sover as Langebaan en Big Bay ontvang.
Heugh meen die nasionale inperking gaan ’n invloed op die reeds sukkelende huishoudings hê en die groep is vasbeslote om hulp te verleen aan diegene wat dit nie breed het nie.
Volgens Ricardo Skippers van die motorliefhebbersklub, MK1 Lifestyle, wat ook die WAMP Foodbank ondersteun, is dit wonderlik om te sien hoe die Atlantis-gemeenskap dié projek ondersteun.
“Organisasies en ondernemings span nou saam om van die inisiatief ’n sukses te maak.”
Allister Lightburn, proporsionele raadslid van wyk 29, het nie net sy hand diep in sy sak gedruk nie, maar speel ook volgens Heugh ’n groot rol om skenkings in te samel.
GRI-sokkerklub, Radio Atlantis en Elizabeth Syme-eiendomme is ook van die ondernemings en organisasies wat daagliks betrokke is by die insameling van skenkings.
Al die betrokkenes is dit eens dat dié groep hier is om te bly en ’n verskil te maak in die lewe van die kwesbares in Atlantis in hulle tyd van nood.
Die groep maan gemeenskapslede wat in ’n posisie is om ’n donasie te skenk om dit te doen – dit kan van ’n blikkie vis tot ’n R10 wees. “Elke bietjie help.”
Niebederfbare kos kan by Radio Atlantis se kantoor in Markstraat afgelaai word of bel AO Shawn Smith by 082 457 8303 of Skippers by 071 757 3302 om die oplaai daarvan te reël.
Die kospakkies was vanaf Donderdag 9 April beskikbaar.


