Wat is ’n gemeenskapsgroentetuin?
Dit is nie so eenvoudig soos dit klink nie en vereis baie toewyding en samewerking.
Dis nie slegs vir die groei van vrugte en groente nie, maar kan ook ’n gevoel van ’n gemeenskaplike doel en samesyn skep – veral as ’n mens gesonde maaltye saam kan geniet wat uit die tuin geoes word.Waar begin ’n mens?
Geen mens is ’n eiland nie en so ook word geen gemeenskapstuin slegs deur een persoon geskep nie. Dit verg spanwerk en samewerking. Gesels met jou bure en mede-inwoners oor jou planne om ’n gemeenskapstuin te begin. Die gesondheidsvoordele daarvan is onder meer om in die buitelug te wees en jou eie voedsel te verbou, te midde van die toenemende besorgdheid oor volhoubare, gesonde kos. Die volgende stap
Identifiseer ’n stuk grond en dink daaraan om dit te omhein om ongewenste gaste en honger diere uit te hou. Die geskikte terrein moet plat wees en genoegsame son deur die dag kry.
Deur ’n behoorlike tuinplan op te stel, sal nie net help in die organisering van die plante nie, maar sal ook help om jou te herinner watter plante jy waar geplant het. Dit kan selfs die moeite werd wees om bokse te bou om as beddens te gebruik of om ou huishoudelike artikels as beddens te gebruik soos kruiwaens, laaikaste, motorkappies en selfs ou kano’s sorg vir kreatiewe groentebeddens.
Soos wat elke persoon sy individuele dieetvereistes vir optimale groei het, so het elke plant ook sy spesifieke groeibehoeftes ten opsigte van die hoeveelheid son, skaduwee, water en kunsmis. Indien jy behoorlik navorsing oor die groente of vrugte gedoen het wat jy wil kweek en dit kategoriseer, wen jy reeds die helfte van die stryd om jou eie ekovriendelike tuin te begin.Organiseer ’n plantdag
Kry al die geïnteresseerde individue bymekaar vir ’n dag waar elkeen ’n bydrae lewer om te help bou en plant aan die groentetuin. Die sanderige grond sal baie kruiwaens kompos benodig, so maak seker om sommer baie sterk mans te kry om te help.
Die grondslag van enige tuin is die grond en kompos is ’n goeie manier om die gehalte van die grond te verbeter. Kompos is herwonne organiese materiaal en dit help om die struktuur van die grond te verbeter. Dit help ook om afval, wat dikwels op die stortingsterrein beland, te verminder. Baie mense is onder die indruk dat tuisgemaakte kompos ’n ingewikkelde proses is wat baie ruimte benodig, maar die werklikheid is dat om kompos te maak in selfs die kleinste plek moontlik is, maar die sleutelelement is hitte.
Jy kan nie net ’n klein hopie in die hoekie gooi wat direkte sonlig kry nie. Jy kry spesifieke houers om kompos tuis te verbou. As jy die regte “resep” volg, kan jy kompos binne ses maande verbou. Selfs ’n wurmplaas kan help om kostes van die groentetuin laag te hou en is volhoubaar en ekovriendelik. “Wurm-tee” is noodsaaklik tot die bydrae van voedingstowwe vir die grond sowel as die plante.
Die opvang van reënwater sal daartoe lei dat koste laag bly. Dit is ook nodig om ’n besproeiingskedule op te stel om te verseker dat die groente nie verwaarloos word nie.
Maak ook jou eie insekdoder met natuurlike produkte wat ook veilig is vir menslike gebruik, soos suurlemoen-bloekomolie, pepermentolie, sitronella-olie, katmint-aftreksel, roosmaryn-aftreksel en roos-geraniumolie, in plaas van giftige winkelgekoopte produkte wat ’n skadelike uitwerking op die omgewing het. Die plant van kruie met sterk geure tussen die gewasse help ook om die goggas weg te hou. Hou in gedagte: As die goggas nie die plante eet nie, is die tuin nie deel van die ekostelsel nie.
Laastens, dit sal voordelig wees om bykomende finansiering of ondersteuning te kry vir die plaaslike tuinsentrum om sodoende die volhoubare kontinuïteit van die gemeenskaplike groentetuin te verseker. Lekker plant en lekker eet!– Wesgro

