Melvin Losper, die hoof van Protea Park Primêr, Veronica Daniels (GPF), Michael September van Lief en Leed en Glodene Smith (GPF) trots by die rekenaars.Foto: Murphy Roberts


Protea Park Primêr het twee organisasies se taak vergemaklik toe die skool twee rekenaars geskenk het.

Volgens Melvin Losper, die hoof, het hy die sakeman Abdul Tajoodien gevra aan wie die rekenaars geskenk kan word. Tajoodien het Michael September, president van die Lief en Leed-organisasie, wat aansoek vir ’n rekenaar gedoen het, identifiseer en die skool genader.

Volgens Tajoodien het die skool ingestem. Die ander rekenaar is aan die Atlantis-gemeenskaps­polisiërings­forum (GPF) geskenk.

Veronica Daniels, voorsitter van die GPF, sê die skenking kom op net die regte tyd aangesien hulle sukkel om administratiewe take weens ’n gebrek aan kantoortoerusting te doen.

September het Lief en Leed in 1986 gestig om na gestremdes om te sien. Die opgewonde September het aan Weskus Nuus gesê hy moes altyd ander mense vra om sy administratiewe werk te doen.

Die organisasie het onlangs ook drie hektaar grond in Mamre gekry waar hy beoog om ’n sentrum vir gestremdes te bou.

September, wat ook ’n kierie by Tajoodien gekry het omdat hy moeilik loop, sê hy gaan die rekenaar inspan om finansiering te kry.

Losper sê hy is dankbaar die skenkings sal vir ’n goeie doel aangewend word en het die organisasies sterkte toegewens.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article