Inwoners van Atlantis en Witsand het Dinsdag 15 Oktober voor die plaaslike landdroshof betoog teen borgtog vir moordenaars en dwelmhandelaars. Foto: Verskaf


Die gemeenskap van Witsand is keelvol vir misdaad en het besluit om self hul strate skoon te maak en eie reg te gebruik.

Met ’n vergade­ring vroeër het inwoners besluit dat dwelmhan­de­laars moet padgee en het ’n “aand­klok­reël” ingestel.

Inwoners het na dwelmhuise opgeruk en het handelaars uit die gebied gedryf deur dwelmhuise af te brand. Die aandklokreël bepaal dat niemand saans ná 22:00 op straat mag wees nie. Winkels en sjebeens moet ook voor 22:00 toe wees. Indien jy op straat betrap word en kan nie verduidelik wat jy steeds buite doen nie, sal daar met jou afgereken word.

Die groep van byna 200 inwo­ners is deur dwelmhandelaars en sjebeen-eienaars as die Boko Haram gedoop.

Volgens die groep is hulle nie Boko Haram nie, maar bekommer­de inwoners wat keelvol is vir dwelms en misdaad. Inwoners het Dinsdag 14 Oktober buite die hof teen borgtog vir ’n dwelmhan­delaar betoog. Die hof moet besef dat met die handelaar in die tronk kan sy onderneming nie voort­gaan nie en het ’n petisie met meer as duisend handtekeninge aan die hof oorhandig dat dwelm­base nie borgtog moet kry nie. Borgtog is geweier en die verdagte sal weer 30 Oktober in die hof verskyn.

In ’n ander geval sal ’n 56-jarige man, wat vermoedelik twee sus­ters van 8 en 11 jaar in Witsand verkrag het, weer 15 November in die hof verskyn.

Die verdagte, wat ’n familievriend van die slagoffers was, het na die twee gekyk terwyl die pa nagskof gewerk het. Volgens ’n betroubare bron is die man van sy vrou vervreem en het hy toesig oor die twee kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article