Terwyl onskuldige bloed die strate bevlek en bendegeweld hoogty vier, kry inwoners van Atlantis treurige diens van die polisie, meen gemeenskapsleiers.
“Die tyd is nou reg vir ’n veldtog om Atlantis se top-polisiebeamptes terug te bring om orde te help herstel,” sê Mishka Ganief, voorsitter van Atlantis Concerned Citizens.
Volgens Ganief word die dorp se goeie polisiebeamptes uitgeplaas om ander gebiede veilig te hou, “en dit moet nou stop”. Sy sê speurders wat vrees by bendelede kan inboesem en steeds in diens is, maar in ander gebiede werk, moet nou terugkeer waar hulle begin het.
Volgens Ganief het sy die afgelope paar maande navorsing gedoen oor polisiebeamptes wat sukses behaal het en na ander gebiede verplaas is, en sê dit is rede tot kommer waarvoor Atlantis-inwoners nou die prys betaal.
Ganief meen beamptes soos Flippie Phillips, Deon Pietersen (Pietie) en Dougie Muller kan ’n groot verskil maak omdat hulle plaaslike kennis het en weet hoe om bendelede vas te vat. Flippie en Pietie is twee voormalige plaaslike speurders wat tans by die provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad werk en het reeds groot sukses hier behaal. Die twee saam het verskeie bendelede vir misdade in Atlantis gesamentlik vir meer as 800 jaar tronk toe gepos.
Hulle het ook die eerste suksesvolle vervolging in die Wet teen georganiseerde misdaad (Poca) in Suid-Afrika gehad.
Muller, wat sy loopbaan by die Atlantis-polisie begin het, is tans die waarnemende speurhoof in Milnerton. “Daar is nog baie wat ek kan opnoem,” sê Ganief, “maar vir eers moet die proses begin word.”
Allister Lightburn, ’n raadslid, sê hy ondersteun die proses om dié polisiebeamptes terug te bring en het reeds werk daarvan begin maak.
Lightburn sê ’n vergadering met Albert Fritz, die provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, word binnekort gehou om die bal aan die rol te sit.
Die gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg sê die gemeenskap moet ’n sterk gemeenskapspolisiëringsforum kies wat verantwoordelikheid moet aanvaar en nie sal skroom om die polisie te kritiseer nie. Hy sê pleitooreenkomste met bendelede word “te maklik” aangegaan om ’n skuldigbevinding te kry, en dan “loop skieters weer vry rond”.
“Atlantis moet ook sy eie spesialis-eenheid kry wat net op bendegeweld fokus,” meen Stoffberg.




