Lee-Anne Fink, ma van die vermoorde Ezra Finck, kan dalk 30 jaar tronkstraf opgelê word.
Só het owerhede van Sao Paulo, Brasilië verlede week gesê.
Fink en haar maat Mzee Shabani, word daarvan verdink dat hulle Fink, se tóé sewejarige seun, Ezra in September 2015 met ’n stomp voorwerp in hul woonstel doodgeslaan het en sy liggaam in ’n vrieskas verberg het voordat hulle gevlug het.
Mzee het vroeër in die hof aangevoer dat Finck haar seun vermoor het terwyl hy sy twee dogters by die skool gaan haal het. Regter Debora Faitarone het hom toe onder streng voorwaardes in 2017 vrygelaat. Die San Paulo regbank het egter nou besluit dat daar genoeg bewyse is dat Mzee gehelp het met die moord en hy is weer in hegtenis geneem.
Volgens die aanklaer, Ariel de Castro Alve, was daar altyd sterk bewyse dat die ma nie alleen die moord gepleeg het nie en dat sy by tye van die moord deur Mzee bygestaan is.
Volgens die aanklaer sal sewe jurielede nou besluit of Mzee in werklikheid saam met sy maat aan die wrede moord op die kind deelgeneem het, of nie. Hy sê voorts sou Mzee wel vrygespreek word vir die dood van Ezra sal hy wel gevonnis word tot drie jaar vir die verberging van die liggaam. Lee-Anne sal tot 30 jaar in die gevangenis moet bly en die straf word met ’n derde verhoog omdat die slagoffer jonger as 14 jaar oud was, sê De Castro Alve.
Die twee bly in aanhouding tot ’n verhoordatum deur die jurie aangewys word. Klein Ezra, wat ten tye van sy dood by ’n tante in Atlantis gewoon het, is vermoedelik onder valse voorwendsels deur sy ma na Brasilië gelok dat hy slegs vir die skoolvakansie sou kuier, maar het nooit teruggekeer nie.




