Groete en beste wense vir 2024.

Dit is ’n groot jaar vir die Atlantis- Sez vir groen tegnologie met ’n paar belangrike mylpale op ons reis om werk te skep en te groei en ons vertrou die groenekonomie sal stoom optel.

Ons sal volgende maand meer hieroor sê. Vir nou is ons verheug om aan te kondig dat ons ’n nuwe raadsvoorsitter, Saliem Fakir, het. Sy aanstelling geld vanaf 15 Januarie.

Hy is ’n wêreldbekende en invloedryke leier in volhoubaarheid, klimaatbeleid en finansies. Fakir bring ’n magdom ervaring, kennis en entoesiasme vir transformasie.

Die Atlantis- Sez- meerderheids­aandeelhouer-verteenwoordiger, die Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese geleenthede en toerisme, Mireille Wenger, het Fakir se aanstelling bevestig en sê sy is opgewonde oor die vars perspektief en insigte wat hy na die direksie sal bring en sy sien uit daarna om saam te werk om die uitdagings en geleenthede wat voorlê, te beleef en te hanteer.

Volgens die raadsheer James Vos, namens die Stad Kaapstad se aandeelhouding, sal Fakir se aanstelling as voorsitter die rigting en bestuur van die maatskappy versterk en word sy aanstelling verwelkom.

Fakir beklee tans die pos van uitvoerende direkteur van die African Climate Foundation en sy biografie lui soos volg: voor die stigting van die African Climate Foundation was hy vir 11 jaar die hoof van die beleid- en toekoms-eenheid van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika.

Hy was ’n senior lektor by die departement openbare administrasie en beplanning en ’n mede-direkteur vir die sentrum vir hernubare en volhoubare energie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was agt jaar die direkteur van die wêreldbewaringsunie van Suid-Afrika. Hy het op verskeie direksies gedien en is ’n skrywer wat tot toonaangewende publikasies bydra.

Hierdie rol sal oorgedra word van Jo-Ann Johnston, adjunkdirekteur-generaal by die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme. Johnston het ’n sleutelrol in die skep van die Spesiale ekonomiese sone, wat sy en haar span suksesvol ingestel het deur ’n toegewyde inter-regeringsvennootskap te vervul.

Noudat ’n sterk grondslag gevestig is, kan die onderneming vorentoe gaan.

Johnston sal steeds op die direksie dien en Fakir in sy nuwe hoedanigheid bystaan.

Vanjaar sal ’n ongelooflike jaar vol geleenthede wees en ons sien daarna uit om die voordele te pluk van Fakir se ervaring en leierskapsvermoë wat ’n reeds bekwame en kundige direksie sal aanvul.

Tot volgende keer, Matt

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article