Ons mor, skree, skel (met goeie rede), maar in wese is kragonderbrekings besig om nie net ons lewens merkbaar te verander nie, maar ook die ekonomie word merkbaar verwoes.
As daar nou iets is wat almal in die land soms moedeloos maak, is dit kragonderbrekings; veral die onbeplande kragonderbrekings wat aan die toeneem is. Dit het nie slegs negatiewe gevolge vir die produktiwiteit van ’n ieder en ’n elk in die land tot gevolg nie, maar het ook ’n negatiewe invloed op ekonomiese groei. ’n Ontwikkelende land soos Suid-Afrika benodig alle insette wat nodig is om die ekonomie te stimuleer. Ongelukkig het Eskom nie genoeg vermoë om aan die land se energiebehoeftes te voorsien nie, en beurtkrag is aan die orde van die dag.
Indien Eskom wel op ’n meer gestruktureerde pad geplaas sal word, sal dit jare neem. Daarom is alternatiewe energie van kardinale belang.
Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande grendelmaatreëls het almal onkant betrap en die ekonomiese situasie vererger steeds. Eskom se onvermoë om genoeg krag op te wek, is een van die strukturele beperkings op ekonomiese groei.
Daarbenewens verkeer die staatskas onder druk en plaas dit meer druk op staatsondernemings soos Eskom om te presteer sonder om van hierdie staatskas afhanklik te wees.
Kragonderbrekings het ’n ernstige negatiewe invloed op die ekonomie.
Dit kan verlies aan ekonomiese aktiwiteit, afname in ekonomiese groei en verlies aan belegging in die land tot gevolg hê. Navorsing wys beurtkrag het die afgelope jaar ongeveer 1% se afname in ekonomiese groei tot gevolg gehad.
Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) het bevind dat 2021 die ergste jaar vir beurtkrag nóg was. Hierdie voortgesette toename van beurtkrag word hoofsaaklik aan onbeplande onderbrekings, ineenstortings en gebrek aan instandhouding toegeskryf.
Strategies is dit sinvol om ou kragstasies met groen kragaanlegte deur onafhanklike kragprodusente, wat gedeeltelik deur die private sektor gefinansier word, te vervang.
Daarbenewens kan baie private maatskappye en munisipaliteite self krag opwek.
Die regering het in Oktober 2020 die elektrisiteit-regulasies aangepas om voorsiening te maak vir munisipaliteite om hulle eie krag op te wek.
Suid-Afrika ervaar aanvraag na alternatiewe energie wat omgewingsvriendelik is. Dit is belangrik om op die verskillende soorte te let – biomassa, sonkrag, wind, gety en geotermiese krag – en dat elkeen sy eie voordele en nadele het. Daarby mag munisipaliteite en ander kragverbruikers nou in beginsel elektrisiteit goedkoper by onafhanklike kragprodusente koop.
Die staat het hom tot die ondersteuning van hernubare energiebronne verbind om die tekort aan energie te ondersteun en ondernemings kan nou vir die voorsiening van hernubare energie tender.


