Die Pretoriase hooggeregshof het op 5 Mei gesê elektrisiteitstoevoer aan alle openbare gesondheidsinstellings, skole en polisiekantore moet deur die staat verseker word.

’n Volbank regters het in hul uitspraak gesê: “Die regering het in sy statutêre en grondwetlike pligte gefaal om inwoners van hul reg tot veiligheid, opvoeding en gesondheidsorg te verseker.”

Die uitspraak volg nadat verskeie politieke partye, insluitend Action SA en die UDM, asook vakbonde en gemeenskapsorganisasies ’n hofaansoek teen die minister van openbare ondernemings en ander gewen het.

Die Pretoriase hooggeregshof het beslis die departement van openbare ondernemings, in samewerking met of sonder ander staatsorgane, moet binne 60 dae alle redelike stappe neem om ononderbroke elektrisiteitstoevoer aan hierdie instellings oor die land heen te verskaf.

“Die wetlike oorwinning verseker dat gemeenskappe oral in Suid-Afrika nie meer onderworpe sal wees aan die mislukkings van die regering en die kragvoorsiener, wat ons gemeenskappe aan hul genade oorgelaat het wanneer hospitale, polisiestasies en skole elektrisiteit tydens toenemende vlakke van beurtkrag verloor,” sê Gillian Benson, lid van ActionSA se senaat.

Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, het in reaksie gesê die regering sal teen die uitspraak appelleer.

Volgens Pravin is hy bekommerd oor die uitwerking van die uitspraak in hul pogings om die voortdurende kragonderbrekings te stabiliseer.

Daaglikse beurtkrag heers sedert November 2022 met die enigste uitsondering wat op 28 Maart vanjaar was.

Die uitspraak van die hooggeregshof beteken ook slegte nuus vir belastingbetalers, omdat die hof beslis het indien die instansies nie van kragonderbrekings vrygestel kan word nie, moet die minister kragopwekkers verskaf. Benewens die kragopwekker moet brandstof ook voorsien word.

Volgens Pravin beteken dit nog meer onkostes vir Jan Alleman.. Intussen het Eskom aangekondig fase 4-beurtkrag bly van toepassing tot verdere kennis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article