Radio Atlantis en Weskus Nuus se Erfenisdag-kompetisie het Vrydag (24 September) ten einde geloop en Charlene Alberts het met ’n braai-geskenkpak weggestap.
In die kompetisie, wat deel was van Radio Atlantis se 26ste verjaarsdagvieringe, is inwoners genooi om ’n foto van hul beste erfenis-uitrustings saam met die jongste uitgawe van Weskus Nuus in te stuur.
Volgens Joline van der Merwe, redakteur van Weskus Media, was dit moeilik om die wenner te kies, maar Charlene Alberts se inskrywing het bo die ander uitgestaan.
“Sy het ekstra moeite gedoen om haar erfenis uit te beeld en ’n potjiekos op die vuur en ander komponente wat gewis meer erfenistradisie uitbeeld, ingesluit,” het Van der Merwe gesê. “Ons was aangenaam verras met die moeite wat almal gedoen het om Erfenisdag uit te beeld en almal was eintlik wenners.”
Volgens Alberts is sy trots om haar kultuur te vier en toe sy van die kompetisie hoor, het sy fyn beplan wat sy alles vir haar wenfoto wou doen.
Neorisha Arendse van Radio Atlantis, wat die kompetisie gereël het, sê toe die inskrywings inkom, het sy geweet dit gaan ’n moeilike besluit wees, maar Alberts se foto het gewis aandag getrek.
Die ander finaliste – Anita Schippers, Jean-dré Flemmer, Ellesna Bock, Tonique Moodley en Elmaree Fisher – het elk ’n pizza van Shah-Zah gekry. Die groep het ook gevra dat meer sulke kompetisies gehou moet word om inwoners se belangstelling te toets.
Volgens Arendse sal ’n groter en beter kompetisie gewis aanstaande jaar aangebied word.




