Tronkstraf moet die laaste uitweg wees.
Só meen Grant Stevens, pa van Jesse Stevens, wat in Julie 2016 deur ’n vierwielmotorfiets gestamp is.
Stevens het Dinsdag 15 Oktober in die Atlantis-streekhof getuig in die saak teen die 18-jarige Rezario Adams wat teregstaan op Jesse se dood. Die toe sewejarige is dood nadat hy op ’n sypaadjie in Nottingham-weg deur die vierwiel-voertuig gestamp is en het op die toneel aan sy beserings beswyk. Weskus Nuus het in die laaste uitgawe berig die hof het beslis dat Adams skuldig aan strafbare manslag is.
“Ek is groot gemaak om mense te vergewe en daarom vergewe ek die beskuldigde. Hy was self ’n kind toe die voorval plaasgevind het, al het hy geen berou getoon nie,” het Stevens sy verklaring aan die hof gelees.
“Ek en my vrou is deur baie trauma . . . ons kind het nie verdien om só te sterf nie,” het hy verder gelees.
Adams het met die hofverrigtinge die Stevens -gesin om verskoning gevra en gesê sy familie het op advies van die ondersoekbeampte, nie vroeër met hulle kontak gemaak nie.
“Aan Jesse se familie vra ek uit die diepte van my hart om vergifnis. Ek kan nie in woorde beskryf hoe ek voel oor die gebeure van dié betrokke dag nie,” het Adams gesê.
Die beskuldige se ma het aan die hof gesê sy blameer haar man vir die ongeluk “omdat hy die vierwielmotorfiets gekoop het”. Adams hoor vandag (29 Oktober) sy lot.





