Gina Smith sê sy kan nie die vier mans vergewe wat haar seun Clint vermoor het nie.
Smith het op Woensdag 12 Junie ’n brief in die hof voorgelees ter verswaring tydens die vonnisoplegging van haar seun se vier moordenaars.
Clint se lyk is op 22 Maart 2013 met 247 steekwonde in Saxonwold naby die Push Pub langs die ou Mamre-Darling-pad gevind. Die ma het in ’n hartroerende brief die hof gesoebat om die swaarste straf moontlik aan Gerrit Franse, Michael Adams, Aldrick Adams en Chestwell Essop op te lê.
“Julle het ’n hegte huishouding in stukkies gebreek, ek kan julle nie vergewe vir wat julle aan my kind en klein-kinders gedoen het nie. My kleinkind wou nie meer skoolgaan nie, omdat hy gespot is oor hoe wreed sy pa vermoor is en moes sielkundige berading kry.
“Julle is koelbloedige, geharde en gewetenlose moordenaars. Ek verag julle, julle families en kinders moet deurmaak wat ons gevoel het. Geen mens sal verstaan wat ons deurgemaak het nie,” het Smith gelees.
“Hy was ’n goeie kind vir my. Ek weet hy was ook nie onskuldig nie – ek weet hy was betrokke by bendes, maar julle het nie die reg gehad om hom so dood te gemaak nie. Daar was ook ’n goeie kant aan hom.
“Hoekom het julle hom nie eerder net geskiet nie? Hoekom moes julle hom só wreed van ons wegneem? Julle het gemaak dat ek God bevraagteken het. Ek het dan altyd gebid vir sy veiligheid.
“Ek het dan altyd die Here gevra om [Clint] te beskerm. Ek is gepynig tot in my siel en wou nie meer kerk gaan nie, want ek was bang om te bid.
“Ek los die oordeel vir die regter, maar ek pleit by u om die swaarste straf moontlik op te lê, want hulle het niks van Clint se lewe gedink nie,” het Smith aan die hof gesê.


