“Ek het Delmarie Solomons begrawe,” sê apostel Jacobus Joseph van J&A begrafnisondernemings.
Volgens Joseph het hy persoonlik die oproep van die familie gekry om haar liggaam te verwyder en dit is wat hulle op 5 Januarie vanjaar gedoen het.
“Ek het die valse aantygings op sosiale media gesien dat die oorledene skielik ‘uit die dood opgestaan het’ en my besigheid word direk valslik by skinderstories betrek,” vertel hy ontsteld.
“Dit gaan my verstand te bowe dat mense sulke snert kan kwytraak,” braak hy gal.
Volgens die ondernemer het hy persoonlik die oorledene se dood geregistreer en die liggaam was in sy lykshuis. Joseph sê daar was wel probleme hoekom die begrafnis nie op 13 Januarie kon plaasvind soos beplan nie.
Hy sê voorts van die probleme wat die familie ondervind het, was dat die graf wat hulle self moes grawe, nie betyds gereed was nie en daar was ook ’n finansiële kwessie ter sprake.
“Ek het aan die familie voorgestel dat alles moet voortgaan soos beplan, maar dat die liggaam ná die verrigtinge teruggaan lykshuis toe totdat die uitstaande kwessies opgelos is, en dan kan hulle net die diens by die graf hê, en hulle het ingestem,” vertel hy.
Volgens Joseph is die betrokke kwessies nou afgehandel en die oorledene kon toe finaal ter ruste gelê word. “Die kwaadwillige bewerings het my genoop om regsadvies in te win omdat my besigheid direk betrek word in die skinderstories en onwaarhede wat deur lede van die gemeenskap versprei word.”
Volgens Allister Lightburn, voorsitter van subraad 1, was daar wel kwessies hoekom die oorledene nie op die betrokke dag kon begrawe word nie. Lightburn het bevestig dat hy by die burgemeestersfonds aansoek gedoen het vir finansiering nadat die familie hom daaroor ingelig het.

