Adv. John van der berg, adv. Reuben Liddell en die opdraggewende prokureur, Niel Slabber, wat die paartjie verteenwoordig.Foto: Murphy Roberts


Die skatryk egpaar van Melkbos, wat op 15 aanklagte van onder andere verkragting, mensehandel en poging tot moord teregstaan, is reeds drie maande in ’n stryd om borgtog gewikkel.

Die borgtogaansoek, wat Donderdag 30 Januarie voortgegaan het en waartydens die twee partye hul argumente afgesluit het, is tot Vrydag 21 Februarie vir uitspraak uitgestel.

Die twee verdagtes se regspan het tydens sluitingsargumente oor hoekom hulle moet borgtog kry, weer die hof se aandag op die klaer se integriteit geplaas. Die verdediging het aan die hof gesê oorweldigende bewyse bestaan dat die klaagster nooit teen haar sin aangehou of ontvoer is soos die staat beweer nie.

Die verdediging wou ook weet hoe kan die staat beweer die klaagster is verkrag terwyl daar ’n sekskontrak tussen die twee partye was.

Die staat, onder leiding van adv. Evadne Kortje, hou egter voet by stuk dat die staat ’n sterk saak teen die twee verdagtes het. Kortje het aan die hof voorgehou dat ses van die aanklagte skedule 6-misdrywe is en daarom moet borgtog geweier word.

Die landdros, Phumeza Magcai, het haar kommer uitgespreek dat die egpaar voorheen privaat gevlieg het en dit dalk weer kan doen.

Die regspan het egter teruggekap dat passasiers steeds verklaar moet word en die owerhede moet weet wie die passasiers is.

Die verdediging het ook aangevoer dat die verdagtes onder huisarres geplaas kan word.

Die verdediging het aangevoer dat dit ’n goeie georganiseerde plan van die klaagster was om geld uit hulle te kry. Die manlike verdagte voer in sy verklaring aan dat hy in Dubai was toe sy vrou hom op 16 Oktober verlede jaar in kennis gestel is dat die klaagster klagtes teen hulle aangemeld het.

“Ek hou geen vlugrisiko in soos die staat beweer nie omdat ek ses dae vroeër na Suid–Afrika teruggekeer het omdat ’n saak teen my en my vrou gemaak is,” lui sy verklaring.

Die verdediging het beide vliegkaartjies as bewys ingedien dat die verdagte oorspronklik eers op 1 November moes terugkeer, maar op 25 Oktober 2024 reeds teruggevlieg het.

Die staat het in die borgtogaansoek verskeie verklarings voorgelees, waaronder dié van die mediese beampte wat die klaagster en die egpaar se minderjarige dogtertjie in die teenwoordigheid van ’n maatskaplike werker ondersoek het. Volgens die mediese verslag het beide ou, maar gesonde wonde, aan hul geslagsdele.

Die klaagster het in haar verklarings aangedui sy is teen haar wil as ’n seksslaaf aangehou en het ook aangedui dat die egpaar seksuele dade met haar en hul minderjarige dogtertjie gehad het.

Die egpaar hou egter vol dat sy nooit teen haar wil aangehou is nie omdat sy gereeld saam met hulle gereis het en dat hul dogtertjie deur ’n man in Doha verkrag is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article