Motoriste het Woensdag 27 Julie in alle erns na die geskiedkundige opening van die eerste volwaardige vulstasie in Mamre uitgesien.
Die eienaars, Usen en Liebchen Jacobs, was opgewonde met die amptelike knip van die lint. Die twee se trotse ma, Prino Jacobs, het in koue van Atlantis af gekom om haar kinders op die groot dag te ondersteun.
Dit het Usen en sy span omtrent vyf jaar geneem om die Stad Kaapstad te oortuig die Mamre-gemeenskap het hul eie vulstasie nodig. As mede-eienaar is Liebchen ook aan die stuur van die plaaslike OK in die dorp, en sê die streng voorwaardes van die Stad het die span glad nie afgeskrik nie. Volgens Usen het hulle die aansoek vir ’n lisensie reeds in 2017 ingedien.
“Ons het ’n paar struikelblokke in ons pad gehad, maar dit het ons nie van stryk gebring nie, want ons visie is om ontwikkelaars Mamre toe te lok om meer werksgeleenthede vir die pragtige dorp se mense te skep,” vertel Liebchen.
Noudat die vulstasie ’n werklikheid is, bring dit nie net ekonomiese verligting nie, maar ook werksgeleenthede vir 16 inwoners van Atlantis en Mamre, sê Usen.
Volgens Morne van Dyk, ’n verteenwoordiger van Quest Petroleum, het sy maatskappy hand aan hand saam met die nuwe eienaars gestap om dit ’n werklikheid tot voordeel van die gemeenskap te maak. “Ek het nie woorde om die opening te beskryf nie, maar ek is baie bly om deel te wees van die Mamre-vulstasie,” sê Van Dyk.
Usen sê faktore soos die stedelike ligging en veiligheid van die inwoners het ’n groot rol in die aansoekproses vir die vulstasie vervul.
Van Dyk, wat die bouproses by Mike Kriswell en Adriaan le Roux oorgeneem het, sê die lang ure se harde werk – met al die spesifikasie en die Stad se voorwaardes – was gewis die moeite werd. Gereelde inspeksies is nagekom sodat die vulstasie in elke opsig met die spesifikasies ooreenstem.
Die broers het ook die Kaapstadse burgemeester en die plaaslike raadslid Allister Lightburn bedank vir hul bydraes om die projek ’n sukses te maak. Die vulstasie sal 24 uur oop wees.
Die span hoop om binnekort sy dienste met ’n kiosk uit te brei.
“Ons bedank die gemeenskap vir die vertroue en ondersteuning wat hulle tydens die oprigting van die vulstasie getoon het,” sê die Jacobs-broers.


