Terwyl sommige inwoners van Atlantis steeds dink die gevreesde Covid-19-virus sal hulle nie raak nie, is die eerste positiewe gevalle hiér aangemeld.
Twee werknemers van ’n bekende kettingwinkel in Bayside, waar ’n bestuurder positief getoets is vir dié virus, het aan Weskus Nuus bevestig hulle uitslae is ook positief.
Werkers by dié kettingwinkel is Dinsdag 14 April huis toe gestuur nadat die bestuurder positief getoets is. Volgens die 32-jarige vrou het sy en vier ander vir hul toetse by Wesfleur-hospitaal gegaan en is al vier se uitslae positief.
Volgens die werknemer het die bestuur van die kettingwinkel die dag almal aan hul eie genade oorgelaat – hulle moes met openbare vervoer huis toe gaan en kon ook ander mense aangesteek het.
Die 44-jarige vrou van Beacon Hill wat ook positief getoets is vertel sy was nog kort voor die bom gebars het in kontak met die bestuurder. Die groep beweer die bestuurder, wetende dat hy positief getoets is, het nooit die personeel van sy status ingelig nie.
Die sentrum het in ’n mediaverklaring gesê alle prosedure is gevolg en die maatskappy het die winkel deeglik ontsmet.
Dié vroue meen ook daar gaan meer gevalle kop uitsteek. Weskus Nuus het vertroulik verneem dat meer as 30 werkers reeds by die hospitaal getoets is. Werkers by ’n bekende graanontbyt-fabriek is Dinsdagoggend 21 April huis toe gestuur omdat die man wie se vrou positief getoets is, daar werk. Volgens ’n woordvoerder van die fabriek is een van hul werkers aan die virus buite die werksplek blootgestel. Die maatskappy sê in ’n verklaring ander werkers wat in direkte kontak met die verdagte geval was, is gevra om in afsondering by die huis te bly en die fabriek is deeglik ontsmet.
Volgens Natalie Watlington, woordvoerder van die departement van gesondheid, is dit belangrik dat inwoners slegs die hospitaal besoek indien dit ernstig is. Volgens Watlington is Wesfleur-hospitaal ook geïdentifiseer as een van die provinsiale fasiliteite waar toetse en keuring van pasiënte gedoen sal word. Watlington sê elkeen van die provinsiale toetsterreine het ’n tent waar mense vir Covid-19 getoets kan word en waar pasiënte eers gemonitor word. Sy sê dit is ook belangrik omdat persone met moontlike infeksie nie gehospitaliseer hoef te word nie en sodoende van die ander pasiënte geskei word en blootstelling verminder.




