Met die dorp reeds in donkerte weens beurtkrag moes inwoners van sekere dele in Atlantis die naweek omtrent rondval vir drinkwater.
Weskus Nuus het Saterdag gesien water spuit naby die plaaslike begraafplaas soos ’n wafferse waterfontein.
Inwoners van Sherwoodpark, Kanonkop, Saxonsea en Robinvale is van dié wat die ergste geraak is. Volgens die nuwe subraad 1-voorsitter Allister Lightburn is hy Saterdag deur inwoners gekontak oor geen water in sekere gebiede nie.
Lightburn sê hy het dadelik met die water- en sanitasieafdeling kontak gemaak om die probleem te ondersoek. Lightburn het behoorlik gal gebraak teen die wetteloosheid van kwaaddoeners. Die span het ontdek dat een van die hoofstroom-kleppe beskadig is en baie onderdele is gestroop.
Om sake verder te bemoeilik, het ’n waterpyp in Charel Uys-rylaan net voor die Atlantis-begraafplaas gebars.
Munisipale werkers het toe ontdek dat ’n klep gevandaliseer was en onderdele sou eers Maandag (gister) beskikbaar wees. Die departement het alternatiewe maatreëls probeer tref, maar die waterdruk was steeds te laag “en ons moes toe watertenke inbring om inwoners van water te voorsien”, vertel hy.
Die departement sou Maandag die nodige herstelwerk doen om sodoende die probleem op los. Lightburn het inwoners bedank vir hul volgehoue geduld en kalmte onder moeilike omstandighede.
“Ek het ook die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, raadslid Zahid Badroodien, ten volle ingelig en reg deur hierdie moeilike tyd op hoogte gehou,” vertel hy. “Ek wil ook almal bedank wat ook gehelp het met deursigtige kommunikasie na die gemeenskap.”





