Dit was nooit maklik nie. Daar was baie slapelose nagte, deure wat oral in jou gesig toegemaak word en natuurlik covid, maar ten spyte daarvan het Lindy Kraak de Vos, mede-eienaar van Driftshoogte Agricultural Hub, deurgedruk en uiteindelik vrugte afgewerp met die amptelike bekendstelling van dié organisasie, wat Vrydag (4 Oktober) buite Mamre gevier is.
Die organisasie sal hom daarop toespits om groente vir die mark te kweek en te verkoop.
Lindy sê dit is net haar vasberadenheid en ondersteuning van familie en ander rolspelers wat haar nooit laat tou opgooi het nie. Sy het aan gaste vertel dat sy destyds besluit het om die Atlantis- spesiale ekonomiese sone se kantoor te besoek om te sien hoe hulle haar kan help, en sy het nog nie een dag dié besluit berou nie.
“Ek het reeds sedert 2019 nadat ek die 10-jaar-huurooreenkoms met die Mamre CPA [Vereniging vir gemeenskaplike eiendom/Communal Property Association] geteken het, geweet wat ek gaan doen,” vertel sy trots. “Ons moes baie struikelblokke oorkom en kon ook nie finansiële hulp by verskillende staatsorganisasies kry nie, wat dit nog moeiliker gemaak het.
“Opgee bestaan egter nie in my woordeskat en ná alles het ek terug Asez toe gegaan, wat my baie hoop gegee het.”
Volgens Hardley Smith van Asez het hy dadelik besef die projek kan ’n wenner wees en was glad nie verbaas toe PepsiCo besluit het om in te koop in die planne nie.
Nico Moloto van Pepsico sê Lindy het hulle verbaas met haar beplanning en vasberadenheid en dit het hul besluit baie maklik gemaak. Volgens Moloto het hul maatskappy ’n rentevrye lening aan Driftshoogte goedgekeur, wat finaal die deure vir haar oopgemaak het.
Volgens Lindy besef sy dat haar onderneming nie daagliks aan die behoeftes van die ope mark sal kan voorsien nie, maar sy hoop dat ander kleiner sakeondernemings in dieselfde bedryf kan saamwerk om sodoende ’n verskil in die mark te kan maak, vertel sy. Volgens Lindy word die eerste twee hektaar nou bewerk en beplant en sy hoop om in die nabye toekoms die volle 10 ha te bewerk.
Volgens Allister Lightburn, die wyksraadslid vir die gebied, kan die plaas ’n nuwe era vir ander kleiner boere inlui. Volgens Lightburn is Lindy se vasberadenheid en hongerte vir sukses dalk net die regte dryfkrag.




