Die bloed van onskuldige slagoffers het Sondag 28 Maart gevloei toe drie mense in afsonderlike voorvalle gesterf het.
In die eerste voorval het ’n dronk bestuurder van die polisie in Atlantis probeer wegjaag toe die bestuurder vermoedelik van Malmesbury in Klein Dassenberg-rylaan in ander motors vasgejaag het. Twee mense is op die toneel dood en verskeie ander is ernstig beseer.
Volgens kapt. Lisa Munro is die bestuurder aangekeer en word klagtes van dronkbestuur en strafbare manslag ondersoek.
Die tweede voorval het tussen 18:00 en 19:00 gebeur toe die 17-jarige Moegamat Faizel Daniels dood is nadat vermeende bendelede op mense geskiet het.
Daniels, ’n matrikulant by Atlantis Sekondêr, is dood toe hy by ’n netbalwedstryd in sy buurt, Babblers Place, geskiet is.
Die leerder is getref toe vermeende bendelede van ’n ander gebied uit ’n kerk se agterplaas op mense geskiet het en hy in die kop getref is.
Omstanders het gesê die koeël kon enigeen getref het aangesien Daniels tussen mense gestaan het.





