Pasiënte van Wesfleur hospitaal moes bloedige hitte verdra terwyl die polisie se bom eenheid die perseel deursoek.

Murphy Roberts

Met pasgebore babas, ernstige siek pasiënte en moontlike
Covid-19-pasiënte moes almal die bloedige son verduur terwyl die polisie se
bomeenheid die hospitaal vir ’n bom deursoek het.

Dié voorval het Dinsdag (16 Februarie) by die Wesfleur-hospitaal
gebeur en was die vierde bomdreigement in ’n week nadat die plaaslike hof,
inkopiesentrum en ook die MyCiTi-bushalte soortgelyke dreigemente ontvang het.

Pasiënte, wat Dinsdag by ’n naburige sentrum moes wag, het
aan Weskus Nuus gesê alles het baie vinnig gebeur.

Die ma van ’n twee uur oue baba wat in die bloedige hitte
moes sit sê daar is niks wat sy kan doen aangesien die dreigement in ’n
ernstige lig gesien moet word. “Dit is baie ongemaklik hier buite en hoop dat
die skuldiges gou aangekeer word,” het die ma gesê.

Volgens Natalie Watlington, woordvoerder van die department
van gesondheid, moes verskeie dele van die hospitaal ontruim word ná die
dreigement. Sy het verduidelik die dreigement het veroorsaak dat pasiënte wat
in die proses was om broodnodige mediese sorg te ontvang, ontwrig is.
Watlington het die gemeenskap bedank vir hul verdraagsaamheid terwyl die
polisie se eenheid die fasiliteit geïnspekteer het.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale
polisiewoordvoerder, word ’n klag van bomdreigement ondersoek nadat die
hospitaal ’n dreigement ontvang het. Volgens Rwexana was daar geen bom 
gevind nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article