Dr. Veneshley Samuels wys met trots waar sy vandaan kom.Foto: Clement Trussell


“Dura is waar ek my eerste tree gegee het. Dís waar ek my eerste woorde geuiter het en dís waar my ouers en familie woon.”

Só sê nuutgegradueerde dr. Veneshley Samuels trots.

Dié mediese dokter, wat in die hartjie van die berugte Dura-woonstelle in Atlantis grootgeword het, vertel aan Weskus Nuus sy het juis dié beroep gekies om haar gemeenskap te help.

“Ek het reeds in my laerskooldae besluit ek wil iets van my lewe maak en het gereeld by my ouers gesmeek om my uit die woonstelle te neem om my droom te bewaarheid.”

Samuels vertel sy was moeg daarvoor om koes-koes te loop of om van die skool af te hardloop.

Bendegeweld vier steeds hoogty in dié gebied.

“My ma het toegegee toe sy die angs en vrees in my oë gesien het nadat bendes weer eendag wild op mekaar geskiet het.”

Samuels het na haar tante in die Paarl verhuis waar sy haar skool­loopbaan daar voortgesit het.

In die Paarl het sy nie meer vir die bendes se koeëls gekoes nie, maar vir die reën.

Samuels het in die Paarl haar tannie se hok met haar gedeel.

“Die hokkie waarin my tante gebly het, het baie gelek, maar ek was veilig en kon op my studies konsentreer en my droom bewaarheid.”

Die beskeie meisie van Dura sê die plek sal altyd deel van haar wees, maar sy moes iets doen om haar omstandighede te verander.

“My familie woon reeds 40 jaar in Dura en ek dink dis net reg dat my ouers ’n rustige aftrede kan geniet.”

Oor haar loopbaan sê Samuels: “Ek wil meer as net ’n dokter wees daarom het ek besluit om my studies verder te vat sodat ek ’n groter impak in my gemeenskap kan maak.”

Samuels studeer verder en wil spesialiseer in oordraagbare siektes soos tuberkulose en ander. “Só kan ek my kennis gebruik en terugploeg in die gemeenskap.”

Die 24-jarige vertel om haar gemeenskap te kan help, gaan sy nie privaat werk nie, maar eerder by ’n staatshospitaal waar almal toegang tot haar dienste kan hê.

“Daar is baie goeie mense in Dura. Nie almal is deel van die bendes nie, daarom het ek besluit om met program­me in die gemeenskap te begin om mense se siening oor die woonstelle te verander.” Ongelukkig het die nasionale staat van inperking haar planne heeltemal in die wiele gery aangesien sy reeds vandeesmaand haar eerste projek van stapel wou stuur. Sy eindig af deur te sê sy gaan beslis Atlantis haar tuiste maak. “Dit is my geboortedorp en ek is trots om vir mense te sê ek is van Dura.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article