Cecilè Alcaster, Chevante se ma, en Ouma Charlene wonder hoe slaap die bestuurder van die bakkie wat Chevante se dood veroorsaak het. Foto: Murphy Roberts


“Het hy geen gewete nie? Is hy nie ’n pa, ’n oupa of ’n oom van klein kindertjies nie?”

Hierdie is van die vrae wat die familie van Chevante Alcaster vra.

Chevante (5) het verlede jaar op 22 Oktober gesterf toe die bestuurder van ’n bakkie vermoedelik ’n stopteken geïgnoreer en haar getref het.

Die voorval, wat by ’n vier-rigting-stopstraat in Sherwoodrylaan gebeur het, het steeds die tonge los.

Volgens Cecilè, Chevante se ma, is die bestuurder wat vir haar kind se dood verantwoordelik is, ’n moordenaar.

“Ek voel baie sterk dat die klagte van strafbare manslag na moord verander moet word. Ek sê dit omdat hy gewetenloos is en na die polisie kon gegaan het,” verduidelik sy.

“Ons sou ook só closure kon kry,” vertel sy emosioneel.

“Die lafaard het egter besluit om te verdwyn nadat hy my kind by die hospitaal afgelaai het. Ons wil nie die polisie blameer nie, maar voel baie meer kon gedoen gewees het omdat daar so baie getuies is,” vertel sy tranerig.

Volgens Charlene Plaatjies, die oorlede meisie se ouma, het haar kleinkind op die noodlottige dag saam met haar oom na haar ander dogter se huis gestap, waar hulle Sondagete sou geniet. Ouma Charlene sê haar seun het vertel die bakkie het vinnig aangekom en Chevante getref net voordat sy op die sypaadjie kon opklim. Terwyl die trane stadig oor die ouma se gesig rol, vertel sy die bestuurder het glo agteruit gery.

“Hy het met my kleinkind na die hospitaal gery, waarna hy verdwyn het.”

Charlene sê talle gerugte doen die ronde en een is oor ’n vrou wat ten tyde van die voorval ook in die voertuig was. Sy sê as dít die geval is, moet dié vrou ook na vore kom om te vertel wat gebeur het. “Ek glo vas sy het ook kinders of ’n kind van haar eie. Ons wil maar net weet wat het op dié dag gebeur.”

Charlene sê ook sy glo die bestuurder moet van moord aangekla word en sê sy wonder baie dae hoe hy kan slaap.

Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, is geen verdagtes nog in verband met die ongeluk aangekeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article