Nou is die tyd dat inwoners van Mamre hande vat en saam vorentoe moet beweeg, het leiers van verskillende organisasies en kerke en ander gemeenskapsleiers besluit.

Die leiers het Donderdag 9 Desember by ’n vergadering met die gemeenskap en politieke leiers gesê die dae waar daar slegs gepraat word, is verby.

Die vergadering is bygewoon deur wyksraadslid Allister Lightburn en onderburgemeester Eddie Andrews.

Volgens Lorenzo Johnson, organiseerder van die organisasie Development Action Group (DAG), het hulle met verskillende leiers gepraat oor die pad vorentoe en ook ’n rits vergaderings beroep. Volgens Johnson het hulle ’n werksessie oor die plaaslikeruimteontwikkelingsraamwerk op 4 Desember gereël waar verskillende leiers insae moes lewer oor wat nou belangrik is vir die dorp.

Andrews het inwoners verseker die Stad is gereed om binne die raamwerk met inwoners saam te werk. Volgens Lightburn bied Mamre baie uitdagings, maar is gereed vir die pad vorentoe. Lightburn het inwoners gevra om nie politiek met hul behoeftes te speel nie, maar gevra almal moet eerder saamwerk.

Gemeenskapsleiers van Mamre was egter skepties oor die planne en het teen politieke leiers uitgevaar.

Volgens Elvino Schippers het Mamre genoeg erwe om ’n behuisingsprojek te begin. Hy het ’n striemende aanval van stapel gestuur op raadslede wat volgens hom net beloftes maak.

Volgens Morgan Sambaba is mense se moraal laag weens die uitdagings wat hulle in die gesig staar.

“Behuising is die grootste probleem, en elke keer kom politici en maak beloftes,” meen Sambaba. Hy sê Mamre het 24 jaar gelede laas huise gebou en die Mamre Communal Property Association het op 27 Mei 2018 met Patricia De Lille, destydse burgemeester, vergader. Hier was ooreengekom om ’n ooreenkoms te teken sodat die Stad met navorsing kan begin vir behuising en hersonering van erwe vir behuising, om ’n paar te noem, maar elke keer moes mense hoor “Ian Neilson dié, Ian Neilson daai, en vandag – vier jaar later – kon hulle nie eens ’n voorlegging op die tafel sit nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article