Tikkoppe in die gebied teiken glo kragkiosks tydens beurtkrag en verontrief baie inwoners.Foto: Murphy Roberts


Terwyl die land gereeld weens beurtkrag in donkerte onthul word, rig “tikkoppe” meer skade aan en laat inwoners mismoedig.

Kragkiosks is nou die teiken van skelms weens beurtkrag en inwoners van Uitbreiding 12 en Sherwoodpark was van die jongste slagoffers.

Inwoners van Allegheneystraat in Sherwoodpark het aan Weskus Nuus vertel hoe hulle verlede naweek gedink het dit is steeds beurtkrag toe die ligte nooit aangegaan het nie. Een inwoner vertel: “Die krag moes Sondagaand tienuur aangaan. Ek moes my baba se bottels vir die nag maak en het gewonder hoekom die krag nie aangaan nie. Dit was baie frustrerend om die hele nag in donkerte te wees.” Die inwoner, wat nie geïdentifiseer wou word nie, sê die skurke wat die plaaslike kragkiosks bygekom het, woon naby hulle en hy vrees intimidasie.

Volgens Allister Lightburn, voorsitter van subraad 1, veroorsaak vandalisme baie frustrasies onder inwoners.

Lightburn het gesê inwoners moet nou begin opstaan en die skuldiges uitwys. “Dit is een van die maniere hoe dit hokgeslaan kan word, omdat baie van die kwaaddoeners aan inwoners bekend is,” het hy gesê.

Volgens Lightburn moes ses families nuwe kragboksies kry. “Ons gaan ferm teen die skurke optree.”

Inwoners van Uitbreiding 12 het ook gal gebraak toe ’n kiosk in Tahoeweg deurgeloop het. “Die jongens besef nie wat hulle aan ons doen nie, en hul eie families ly ook daaronder,” het ’n inwoner gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article