’n Plaaslike kleinboer, Oscar Pick, sê “ ’n dr*l in die drinkwater” by Mamre duur al langer as vyf jaar en hy het derduisende rande verloor en hy glo die Kaapse Stadsraad doen niks aan sy probleem nie.
Volgens Pick is sy dam langs die rioolpompstasie op die Silwerstroom-pad en het baie van sy diere oor die jare gevrek omdat hulle rioolwater ingekry het.
Volgens die moedelose kleinboer, wat grootliks met varke boer, het die dam al oorgeloop en die gemorswater loop dan tot in sy hokke.
“Die pompstasie het onlangs ’n nuwe kragopwekker gekry vir kragonderbrekings, maar dit is nie die probleem nie,” sê hy. “Die probleem is daar is geen pomp wat die riool kan wegpomp nie, en alles loop na die diere se drinkwater oor.”
Pick het Weskus Nuus gaan wys daar is geen pomp nie en sê die vorige pomp het ’n paar jaar gelede op die grond gelê, en eendag was dit net weg.
“Baie amptenare was al hier om te kom kyk, maar dan bly dit net ‘oukei, ons gaan dit uitsorteer’, maar intussen vrek my diere en niks word gedoen nie,” kla hy.
Pick het ook talle korrespondensie aan verskillende amptenare en raadslede gestuur, maar nie veel is gedoen nie.
Volgens Allister Lightburn, proporsionele raadslid vir die gebied, is dit onaanvaarbaar dat die kleinboer soveel moeite met amptenare wat net hul werk moet doen, ondervind.
Volgens Lightburn het hy die probleem by die verskillende departemente aangemeld en gaan gewis nie terugsit indien die probleem nie spoedig opgelos word nie. “As die administrasiehoofde ingelig moet word, moet dit gedoen word,” meen Lightburn, en het sy misnoeë gewys oor hoe amptenare hul werk doen.
Volgens Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, is die Stad se water- en sanitasiestelsel onder baie druk weens vandalisme en diefstal.
Volgens Lightburn is dit hartseer dat ’n kleinboer wat positief tot ekonomiese groei in die gebied bydra, so moet sukkel.
Lightburn sê hy gaan by die plaaslike administrasie ondersoek instel hoekom daar geen pomp by die stasie is nie.




