Die Stad Kaapstad ondersoek tans die moontlikheid om grense van verskeie subrade in die streek te verander.
Volgens Felicity Purchase, die Speaker, is die stappe nodig nadat nuwe grense vir wyke deur die nasionale regering vir die plaaslike verkiesing, wat op 1 November plaasgevind het, voorgestel is. Die Stad het tans 116 wyke en 24 subrade, maar dit kan na 21 subrade verander.
Volgens Purchase is ’n veelpartykomitee onder leiding van raadsheer Matthew Kempthrone saamgestel om die veranderings te ondersoek. Dit gons tans oor die moontlike veranderings en Weskus Nuus het vertroulik verneem dat Du Noon (wyk 104) in subraad 1 vervang gaan word met wyk 107, wat dele van Tableview en Parklands insluit.
Weskus Nuus wou by die burgemeester weet of dit beteken dat Nicky Rheeder, wat die raadslid vir wyk 107 en ook die voorsitter van subraad 3 is, nou die nuwe voorsitter van subraad 1 gaan wees.
Rheeder en nog raadslede het ná die 2016- munisipale verkiesing teen die besluit gestem dat die nuwe subraad 1 na Atlantis moet skuif en het ook ’n petisie teen die skuif opgestel.
Ashley Poole het destyds die plaaslike veldtog gelei om die subraad na Atlantis te bring, wat toe gebeur het. Poole sê egter baie raadslede uit die meer gegoede gebiede was gekant teen die skuif.
Poole, ’n kandidaat vir Good, sê hy vind dit interessant dat Rheeder “nou skielik” na Atlantis gaan skuif en sê hy vermoed Rheeder is met die voorsitter-wortel gelok.
“Die kanse dat een van die plaaslike raadslede nou dalk as voorsitter verkies kan word, raak al skraler as die veranderings wel gaan gebeur,” sê Poole. Hy meen dit sal “baie tragies vir Atlantis wees”.
Opposisiepartye meen die DA wil kleiner partye só verswak in gebiede waar hulle baie stemme gekry het.
Volgens Nadia Satardien, proporsionele raadslid van Cape Coloured Congress (CCC) en lid van die veelpartykomitee, moet dienslewering voorkeur geniet ten spyte van hoeveel subrade daar sal wees. Sy sê ook die DA se besluit om ’n ANC-wyk met ’n DA-wyk in subraad 1 te vervang, is om voordeel te trek uit die Atlantis- spesiale ekonomiese sone. Satardien meen die DA wil ekonomiese ontwikkeling beheer “daarom word nog wit raadslede hier ontplooi”. Rheeder is voorsitter van subraad 3, wat beteken met ’n skuif kan die plaaslike subraad “weer ’n wit voorsitter in ’n bruin gemeenskap hê” meen sy.



