’n Derde verdagte is verlede week aangekeer ná die moord op die 15-jarige Dehaino Bester enkele dae nadat ’n tweede verdagte vroeër in Februarie aangekeer is.
Die minderjarige verdagte, vermoedelik ’n leerder by ’n plaaslike hoërskool, is op 7 Februarie in hegtenis geneem – net ’n paar dae nadat nog ’n verdagte, net bekend as “Tand”, op Maandag 3 Februarie by ’n familielid se woning aangekeer is (“Skieter se ‘Tand’ getrek”, WeskusNuus, 11 Februarie 2025).
Die eerste verdagte, wat na bewering die wegkommotor bestuur het, is reeds kort ná die voorval in hegtenis geneem en het al ’n paar keer in die hof verskyn.
’n Wye soektog na die verdagtes is sedert die moord op Dehaino op 2 November verlede jaar van stapel gestuur.
Volgens ’n betroubare polisiebron soek die polisie na nog twee verdagtes.
Terwyl familie van die vermoorde Bester pligsgetrou elke hofverskyning bygewoon het, sê hulle hulle sal nie rus voordat reg geskied nie.
Atlantis is op die noodlottige dag geruk deur die voorval wat nie net nog ’n slagoffer van bendegeweld geëis het nie, maar ook ’n belowende jongman met ’n blink toekoms op die sokkerveld.
Dehaino, ’n leerder aan die Proteus Tegniese Hoërskool, is in Uitbreiding 13 koelbloedig doodgeskiet. Dié jong sokkerspeler het op die dag van sy dood nog Jomo’s Power AFC (JPAFC) se o.15-sokkerspan tot ’n oorwinning van 4-2 in ’n Cape Town City FC DreamClub 100-uitspeelwedstryd in Strandfontein, Mitchells Plein, gelei. Dié wedstryd het 0-0 geëindig, maar hy het die wendoel in die uitskoppe behaal.
Dié talentvolle seun het die aand nog sy ma gevra om sy trui te was omdat hy die volgende dag weer moes gaan sokker speel. Hy sou net vinnig by ’n vriend se 21ste verjaarsdagpartytjie ’n draai gaan maak en dan weer teruggekeer het huis toe.
Dehaino is op pad na die geselligheid geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk terwyl die skieter in ’n motor van die toneel af gevlug het.
Die drie verdagtes verskyn op 27 Februarie saam in die hof.





