Dante Davids, ’n voormalige leerder aan die Laerskool Darling tot en met graad 6, het op 12-jarige ouderdom die aandag van die Westelike Provinsie se skolekeurders getrek tydens wedstryde waarin hy uitgeblink het.
Davids, wat uit Mamre kom, se talent is vroeg deur sy skoolafrigter, Marinus Breedt, by Darling Primêr raakgesien.
Nadat hy sy buiging vir die WP-o.13-Cravenweek-span in 2022 gemaak het – terwyl hy by Van Riebeeck Strand Primêr was – het Davids vinnig tot ’n uitstekende speler ontwikkel.
Dié jong speler is deur ’n sportbeurs gelok en hy is na die Hoër Jongenskool Paarl (HJS) gebring – een van die toprugbyskole in die land; dieselfde skool waar die Springbokke Carel du Plessis, Corné Krige en Guthrö Steenkamp en SA Skole-spelers Jameel en Shah-Jehaan de Jong van Atlantis gekweek is.
Vir die beskeie Mamre-seun was die besluit om by HJS aan te sluit, ’n uitdaging, maar hy het die leiding van sy hart gevolg.
Hoewel Davids verkies om as losskakel te speel, het sy oorgang na HJS in 2023 daartoe gelei dat hy deur sy nuwe afrigter as heelagter gekies is, met die oortuiging dat Davids ’n beduidende impak vanuit hierdie posisie met sy ontwykende spoed en krag kan maak.
Sedert hy van posisie verander het, het hy merkwaardige vordering as heelagter getoon en sy plek in die HJS se o.15A-rugbyspan verseker.
Davids erken dat die aanpassing nie moeilik was nie, aangesien hy reeds ervaring in die posisie by sy vorige skole opgedoen het. Hy sê egter die oorgang van laerskool- na hoërskoolrugby is gekenmerk deur ’n vinniger speltempo en minder ruimte vir foute – ’n les wat hy vinnig geleer het.
“Afrigters soos Ruan Vermeulen, Lucian Cupido, Corné van Tonder en Marinus Breedt het my gehelp om opgemerk te word sodat ek my drome kan najaag – net soos ander sportmanne en -vroue voor my,” het hy gesê.
“Ek is trots op my prestasies tot dusver, en my ouers ook, want hulle ondersteun my altyd wanneer hulle kan.
“Noudat ek my plek in HJS se o.15A-span verseker het, streef ek na my volgende doelwit, die Grant Khomo- o.16-span, maar voordat dit kan gebeur, plaas ek my vertroue in God, want Hy sal my lei om my doelwitte te bereik.”
Davids gee erkenning aan sy ouers, afrigters, spanmaats, en Bertus Preller vir hul ondersteuning en bydrae tot sy sukses.


