Studente van die dansskool wil graag hul talent onder Ingrid Beets ontwikkel en soos sy die hoogste sport bereik.


Ingrid Beets (28), Atlantis se eie danssensasie, werk steeds elke dag hard om haar talent te vervolmaak en ook om ander onder haar vlerk by die Ingrid Beets School of Dance te neem.

Volgens Beets het sy van jongs af besef sy wil ander jong mense met haar talent inspireer en het daarom ’n choreograaf geword om haar eie skool te begin.

“Ek het besef die soort opleiding wat ek verlang, was nooit in Atlantis beskikbaar nie en ek moes altyd na ander plekke soos Kaapstad vir topgehalte dansonderrig reis,” vertel Beets aan Weskus Nuus.

Volgens dié bekende danser, wat reeds die internasionale verhoog in 2014 in die VSA bestyg het, het die ondervinding haar genoop om terug te ploeg in haar gemeenskap. Sy het die geleentheid benut om haar eie skool, wat nou reeds 70 studente het, te begin sodat dansers nie na buitedorpe hoef te gaan vir gehalteonderrig nie, vertel sy.

“Baie mense het gesê dit gaan nie in Atlantis werk nie, want hier is te veel armoede. My antwoord bly steeds dieselfde – dit gaan nie oor die geld nie, maar eerder om jonger dansers met kennis te bemagtig,” sê sy.

Beets sê die idee van haar skool is om dansers te laat besef watter soort geleenthede dans vir hulle kan bied – soos wat sy in 2014 gehad het toe sy Suid-Afrika in Amerika by die “Applause rising talent showcase” verteenwoordig het. Sy het in die top-10 geëindig.

Die Ingrid Beets School of Dance, wat in Oktober 2020 gestig is, se dansers het reeds hul heel eerste kompetisie – Atlantis Got Talent – wat op 1 Mei in Mamre beslis is, gewen. Sy beoog om die dansers te laat besef enigiets is moontlik. Sy sê alles is te danke aan God en Sy genade dat sy die geleentheid het om die skool te bedryf terwyl die land ingeperk is, en bedank ook haar familie – veral haar ma – vir hul steun.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article