Matrikulante fokus tans om goeie punte te kry nadat die koronavirus hul laaste jaar byna heeltemal ontspoor het en baie sien die afstel van die matriekafskeid as ’n pluspunt.
Volgens die matrikulante waarmee Weskus Nuus gepraat het verstaan hulle dat daar tans streng reëls is en daarom fokus hulle nou op die eksamen. Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys het 2 September aangekondig dat daar geen matriekafskeid gaan wees nie. Die Wes-Kaapse onderwys-departement (WKOD) sê egter die kwessie is tussen die skool en ouers. “Matriekafskeide is ’n buitemuurse aktiwiteit en ons het nie ’n amptelike beleid daaroor nie,” sê Kerry Mauchline, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer. Mauchline sê die WKOD het wel die skole en ouers gewaarsku oor die risiko’s van ’n matriekafskeid.
“Die reëls is dat daar minder as 50 mense by ’n byeenkoms moet wees. Daar moet ook veilige afstand toegepas word en almal moet maskers dra. “Ondanks al die voorsorg-maatreëls is die risiko steeds daar dat leerders en onderwysers die virus kan kry. Dit sal lei tot selfafsondering van diegene wat aangesteek is en in noue kontak was met die besmette persoon. “Dít sal weer ’n impak hê op hul skoolwerk en die eindeksamen” sê Mauchline




