Die vonke het behoorlik gespat tydens die Radio Atlantis- politieke debat wat Woensdag 20 en Donderdag 21 Oktober in Robinvale plaasgevind het.
Die drama het begin nadat twee DA-kandidate hulle aan die debat onttrek het. Kandidate het die heuningkwas met beloftes van behuising, werk, ondernemings vir kleiner sakelui, gratis dienslewering en elektrisiteit aan inwoners behoorlik gesmeer.
Fiona Abrahams, ANC-kandidaat in wyk 29, het onder meer teen die DA-kandidate uitgevaar. “Hulle regeer tans die twee plaaslike wyke en ook die Stad Kaapstad, maar dink niks van die kiesers nie, en dit is hoekom hulle minagtend teenoor die kiesers is,” het Abrahams gesê.
Kandidate het kiesers belowe dat Atlantis nooit weer dieselfde sal wees ná Maandag 1 November nie, maar of dit wel gaan gebeur, sal kiesers moet wag en sien. Politieke partye het die DA in sy afwesigheid uitgekryt en van swak dienslewering beskuldig. Kandidate het kiesers belowe dat hulle nooit weer met basiese dienslewering in Atlantis sal sukkel nie.
Gaffoor Ganief, wat onafhanklik staan, het gesê jeug-bemagtiging lê hom na aan die hart en jeugsentrums is hoog op sy lys indien hy verkies word.
Volgens Nico Waggenstroom, voorsitter van die DA in wyk 29, het hy besluit die DA-kandidaat sal nie deel van die debat wees nie nadat ’n stemboodskap versprei is waarin gesê word dat die DA raadslede ’n onderdrukte regering ondersteun.
Waggenstroom meen met dié boodskap het die radiostasie se bestuurder “bewys dat hy nie onpartydig gaan wees tydens die debat nie” en daarom het hy gevra die DA-kandidate moet hulle onttrek.





