“Ek moes destyds besluit tussen my passie vir verpleging en politiek. Ek het op politiek besluit omdat ek my gemeenskap beter kon dien.” Cynthia Clayton het haar uittrede uit aktiewe politiek op 31 Mei aangekondig, na drie termyne “danksy die genade van ons Hemelse Vader”.
Clayton het haar politieke loopbaan in 2006 begin toe sy as proporsionele raadslid vir die destydse Onafhanklike Demokrate gedien het en is in Athlone ontplooi.
Dié voormalige verpleegster by die Wesfleur-hospitaal het haar Wyk (29) in 2011 onder die vaandel van die DA gewen en haar op die verbetering van inwoners se lewe toegespits. Sy is ook tot voorsitter van die portefeuljekomitee van gesondheid in die Stad Kaapstad verkies.
Clayton het aan Weskus Nuus gesê die veiligheid van die gemeenskap en welstand van senior burgers was altyd ’n prioriteit in haar twee termyne as wyksraadslid.
Sy het die wyk in 2016 weer gewen en daarna nog harder gewerk om dienslewering aan inwoners te verbeter.
Clayton het ’n prominente rol gespeel om die subraad na Atlantis te skuif toe sy as voorsitter verkies is, vertel sy.
“Dit was gewis nie baie maklik nie, maar genade het my deurgedra,” vertel die raadslid, wat ook status as raadsheer verwerf het.
Clayton het aan die einde van 2019 as subraad-voorsitter bedank ná ’n omstrede mosie van wantroue. Weskus Nuus het in 2019 berig oor die DA se pogings om van haar ontslae te raak. Sy het destyds gesê sy is daarvan aangekla dat sy sake van Patricia de Lille se Good-party uit haar kantoor bedryf, maar sy geen bewyse is in die ondersoek gevind nie.
“Ek is toe aangekla omdat ek nie presteer nie, maar ek het nog nooit ’n swak vorderingsverslag van enigiemand ontvang nie,” voeg sy by.
Sy sê politieke vuilspel deur sommige van haar mede-raadslede het haar toe gedwing om dié “moeilike besluit” te neem.
Clayton, wat die politiek weens gesondheidsredes gegroet het, is tans by haar ma in Kleinmond, waar sy seniors help om die inenting te kry.
Sy praat met trots van verskeie projekte wat sy help verseker het, soos die opgradering van Mamre en Pella se sportvelde, die Saxonsea- Smart Park en verskeie gebiede wat ná baie klagtes beligting gekry het.
Clayton het almal bedank wat haar oor die jare ondersteun het en gesê haar kritici moet volhard met die kritiek, want dit leer hulle baie.





