Augustus is Vrouemaand, en Weskus Nuus het met ’n paar besonderse plaaslike vroue gesels.
Vandeesweek het Chrizelle Isaacs haar ervaring gedeel:
Grootword in Atlantis en die pad na universiteit
My ouerhuis is in Sherwood Park. My ma woon nog daar. Ek was by Saxonsea Primêr en in graad 3 het die skool ons op ’n uitstappie na die Wesfleur-biblioteek geneem.
Ek was verlief.
Ek het onmiddellik by die biblioteek aangesluit, en is steeds ’n lid! Van daardie oomblik af het niks anders verder vir my bestaan nie – nie armoede, tienerswangerskappe, geslagsgebaseerde geweld, seksuele mishandeling of enige van die sosio-ekonomiese probleme wat die orde van die dag in my gemeenskap was nie.
Die boeke het my op reise na verre plekke weggevoer.
My liefde vir boeke en lees het gewys ek was een van die beter presteerders by Saxonsea Primêr ten spyte van die feit dat albei by ouers voldag moes werk. Ek moes dus verantwoordelik wees om my jonger sussie voor skool kleuterskool toe te neem en terugkeer na ’n huis waar jy die sleutel by die buurvrou moes kry en na jouself moes omsien totdat Mamma van die werk af kom.
Ek het my hoërskoolloopbaan by Saxonsea Sekondêr begin en in graad 10, net voor een van my eksamens, het bendelede oor die draad gespring en wild met ’n bofbalkolf onder ons begin slaan. Ek kan nog onthou hoe ek huil-huil eers my biologie-vraestel klaar geskryf het voordat ek dokter toe is.
Daarna het ek my ouers oorreed om my by Hoërskool Swartland in te skryf aangesien my pa in Malmesbury gewerk het. My onderhandeling met hulle was dat ek my Saxonsea-skoolklere aan my vriende sou verkoop en die geld sou gebruik om tweedehandse klere by die nuwe skool te koop.
Dit was net ná 1994 en die dinamika by die skool was moeilik vir kinders wat uit agtergeblewe gemeenskappe kom. As eerstegenerasiestudent moes jy jou eie pad baan en jou eie weg kry. Ek het gesukkel om aan te pas en het weer eens my ouers oorreed om my in my matriekjaar terug Atlantis toe te skuif.
Ek het in 1998 my hoërskoolloopbaan by Proteus Tegniese Hoërskool as een van hul topstudente voltooi.
Ek het altyd geweet ek is gebore vir meer en dat ek bo my omstandighede sou uitstyg.
My toekoms in Atlantis was in daardie stadium om op ’n jong ouderdom swanger te raak of om in ’n fabriek te eindig.
In my ouerhuis is nooit oor toekomsplanne of studies gepraat nie.
Die lewe het my ouers op ’n harde manier geleer om net ’n bestaan te maak. Die siening was as ’n vrou sou jy ’n man kry wat vir jou sal sorg, al is dit ’n man wat jou mishandel en jou nie as lewensmaat respekteer nie.
Ek kan die menige debatte tussen my en my pa onthou. My pa het altyd gesê matriek is al klaar te ver vir ’n vrou om te leer.
Toekomsplanne word gemaak
In my matriekjaar wou ek by die Kaapse Technikon (nou die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) aansoek doen om te studeer. Realisties het ek geweet universiteite was buite my finansiële bereik. Ek het egter niemand gehad wat my anders kon adviseer nie.
Ja, ons is op skool geleer wat jy eendag kan word, maar selfs die onderwysers het ’n kyk in hulle oë gehad wat gewys het dit was net nog ’n onderwerp en daar was nie regtig hoop is nie.
Ek is egter by ’n loopbaan-uitstalling by die Skiereilandse Technikon aan siviele ingenieurswese blootgestel. Die idee van deel wees van infrastruktuur-ontwerp en -bou en terselfdertyd mense se lewensgehalte verbeter terwyl jy wiskunde ook doen, het my baie geïnteresseer.
Ek het aansoek gedoen om vorms by die technikon te kry. Ek is deur al keuring. Vir finale keuring moes ek R500 saamstuur . . . wat ek waar sou kry? Ek het besluit om nie moed op te gee nie.
Ek het besluit om ’n pleitbriefie na my ma se destydse werkgewer, Elvinco Plastics, te skryf om hulle vir die geld te vra. My skoolrapport is saam. En hulle het my ’n tjek gestuur, uitgemaak aan die Technikon!
Ek is seker dat wie ook al besluit het om die geld goed te keur, nie besef het wat die impak daarvan jare later sou wees nie!
Toe ek my laaste matriekvraestel skryf, was ’n telefoonnommer met ’n vakansiewerknota by die skool opgeplak. Só het ek my eerste vakansiewerk by Ratanga Junction gekry – ’n werk wat my verdere lewensvaardighede geleer en ook die finansiële druk op my ouers tydens my eerste jaar se studies verlig het.
Ek het my studies begin en moes aansoek doen vir ’n beurs om met die finansiering te help. Waar sou my hulp vandaan kom? Een van my vriendinne se ouers het ’n katalogus gehad met ’n klomp kontrakteurs se detail in. Weer eens het ek briefies geskryf.
Wonder bo wonder het ’n maatskappy my teruggebel. Hulle het my in ’n onderhoud ’n beurs aangebied met ’n toelae vir boeke en reis plus ’n permanente pos nadat ek my studies voltooi het.
Klippe kou tussen die manne
Ek is nou al 18 jaar by die maatskappy – steeds ’n maatskappy waar ek geleentheid kry om te groei. Deur hierdie geleentheid is ek vandag deel van projekte in dele van ons land waaroor ek destyds net in aardrykskundeboeke gelees het! (Dit is alles) projekte wat tot Suid-Afrika se ekonomiese groei bydra.
Ek word ook ten volle ondersteun met my projek om vroue in landelike gebiede blootstelling te gee deur hulle te bemagtig om deel van spoorwegkonstruksie te wees – ’n deel van konstruksie wat deur mans oorheers was as gevolg van die soort konstruksiemateriaal wat gebruik moet word.
Dit bemagtig die vroue indirek deur ’n uitweg te bied om uit verhoudings met geslaggebaseerde geweld te kom omdat hulle nou hul eie geld verdien.
Uitdagings was daar baie. . .
’n Spesifieke voorbeeld is waar ek een dag op ’n perseel besig was toe die menslikehulpbronnebestuurder my bel – dit was glo my beurt om die telefoon te beantwoord terwyl die ontvangsdame op ete was. Ek het gesê ek sal met graagte uithelp as al my manlike tegniese kollegas ook ’n beurt kry.
Dit was die einde van daai gesprek.
Ek was vir baie lank die enigste vrou – en enigste vrou van kleur – wat instruksies moes uitgee. Dit het nie altyd goed afgegaan nie en ek moes my op die maatskappy se beleid beroep, maar ook my eie menseverhoudinge opknap. As vrou moet ek ook drie keer harder werk om te “bewys” dat ek bevoeg genoeg is. Ek het vroeg geleer om my mond oop te maak. My gunsteling was om te vra of mans en vroue dan verskillende vraestelle skryf terwyl ons studeer indien ons dan nou verskillend behandel moet word. Ek het ook my eie krag besef toe ’n mede-kontrakteur seksuele kommentaar op ’n werkperseel teenoor my gemaak het.
Ek het hom gaan verkla en hy is onmiddellik van die werkplek af verwyder. Die aantal vroue wat ingenieurswese as beroep beoefen, is baie minder as dié wat gradueer – juis as gevolg van redes soos hierdie. Ek is vandag die mees senior vrou wat in beheer is van spoorweg-instandhouding en konstruksie van nuwe spoorlyne in my afdeling. Ek oorsien ’n geografiese gebied van 1 600 km met 40 permanente werknemers en in piektyd sowat 1 000 kontrakwerknemers wat deel van my span is.
Ek is ook ’n mentor vir vroue in ingenieurswese en is by die Ingenieursraad van Suid-Afrika as ’n professionele kenner in my veld geregistreer. Ek het die voorreg om my passie vir die ingenieurswese en mense terselfdertyd uit te leef.
Dit is nie maklik om altyd op te staan teen ander se verwagting van jou nie.
My grootste kompliment was toe my jonger sussie my jare later kom bedank en gesê het as ek nie die norm van ons huishouding uitgedaag het nie, sou sy ook nooit gedink het sy mag studeer nie. Vandag is sy een van die min vrouekapteins in diens van die Departement van Korrektiewe Dienste.





