Janine Passens van Survivors Haven bemoedig familie en vriende van Charne Viljoen op die plek waar sy dood is. Foto: Murphy Roberts


Vriende en familie van Charné Viljoen het Dinsdag 3 Mei, presies ’n jaar nadat sy wreed vermoor is, ’n gedenkdiens op die toneel gehou.

Janine Passens van die Survivors Haven-groep, wat die familie sedert die voorval ondersteun, het in ’n sterk boodskap gesê gesinsgeweld moenie meer stil gehou word nie. “Slagoffers van geslagsgeweld hoef nie langer in stilte te ly nie en moet oortreders identifiseer omdat hulp beskikbaar is,” het sy aangespoor. Passens het ook die polisie gevra om nie langer slagoffers wat vir ’n beskermingsbevel aansoek doen, te ignoreer nie.

Vriende en familie van Charné is steeds geskok en verbitterd dat haar gewese kêrel, die pa van haar nou driejarige seun, van die moord aangekla is. Hulle sê hy kon dit waarskynlik nie verwerk dat Charné, toe 21 jaar oud, niks meer met hom te doen wou hê nie. Sy het blykbaar van hul vier jaar lange verhouding aanbeweeg.

“Die dood van Nykie het ’n groot, groot leemte in ons lewens gelaat, wat nooit weer gevul sal kan word. Ons lewe sal nooit weer dieselfde wees, en nie eens rykdom sal enigiets verander nie,” het Nadia Hendricks, ’n tante van die oorledene, gesê.

“Ons as familie het al baie dinge oorleef en oorkom. Nykie was ons eerste kleinkind van haar ouma Gloria, en sy was haar ma se enigste kind vir langer as 10 jaar,” sê Hendricks.

Sy voeg by die dood was nie net seer nie, maar ook ’n groot skok omdat die familie “so baie vir die (man wat nou weens haar dood verhoor word) omgegee het,” vertel sy verbitterd. Sy meen hulle sou nooit in hul wildste drome kon dink só iets sou gebeur nie.

Hendricks het afgesluit deur te sê dit gebeur dat ’n mens daagliks sien en hoor van ander se pyn, maar die dag as dit met jou gebeur, verstaan jy eers regtig hoeveel van jou weggeneem word.

Die verdagte het Woensdag 4 Mei weer in die hof verskyn en die saak is tot Woensdag 18 Mei uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article