Carl Pophaim, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting, het onlangs verskeie huureenhede in Atlantis besoek om die vordering van opgradering in eenhede te monitor.Foto’s: Murphy Roberts


Die instandhouding van huureenhede van die Stad Kaapstad is belangrik, het die raadslid Carl Pophaim, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting, wat op Donderdag 20 Februarie Neptune Castle en Coral Place besoek het om die vordering van instandhoudingswerk daar na te sien, beklemtoon.

Die besoek van verskeie burgemeesterskomiteelede aan Atlantis is deel van die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se Service Blitz-inisiatief, wat ’n reeks dienste na inwoners in verskeie dele van die Stad bring.

“Ons is opgewonde om vandag in Atlantis te wees om self die werklike verskil te sien wat instandhoudings­werk aan inwoners se lewens maak,” het Pophaim gesê.

Volgens Pophaim is veiligheid een van die belangrikste dinge waarna hulle kyk.

“Dit is ook een van ons doelwitte om die lewensgehalte van inwoners aansienlik te verbeter deur veiliger, gemakliker leefomgewings te skep,” het hy gesê.

Volgens Pophaim is die Stad daartoe verbind om in die komende jare meer as R1,2 miljard in huureenhede reg oor die metro te belê, met die doel om die lewenstandaarde van ons inwoners te verhoog,” het hy bygevoeg.

“Dit is vir my ’n riem onder die hart om te sien dat instandhoudingspanne hard probeer om by spertye te hou om dienste te vergemaklik. Ek moedig al ons huurders aan om enige instandhoudingskwessies wat hulle in hul eenhede teëkom, aan te meld.

“Openbare behuising floreer as ’n samewerkende poging, wat staatmaak op die aktiewe betrokkenheid van alle belanghebbendes,” het Pophaim aan inwoners gesê. Volgens hom word tans aandag aan die volgende herstelwerk geskenk – beveiliging en herstel van geute, vervaardiging en installasies van nuwe opwaskaste, herstelwerk aan bestaande betontrappe, baksteen-/blokstrukture en installering van bykomende waslyne, asook herstelwerk aan vullishutte en trap-handrelings, die toeverf van graffiti op woonstelle en vullishutte, vervanging van gebreekte vensterruite, herstelwerk aan beligting op eiendom en herstelwerk aan foutiewe ligskakelaars.

Die spuit van rioollyne op eiendomme en huishoudelike waterkwessies in verskeie eenhede sal ook aandag geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article