William Booth is deur ’n plaaslike sakeman aangestel om plaaslike polisiebrutaliteit te ondersoek.Foto: Verskaf


Die einde van Atlantis-polisie se gevreesde “A-Team” blyk in sig te wees nadat ’n slagoffer van dié polisiebeamptes besluit het genoeg is genoeg.

Cohen van der Berg (24), ’n jong opkomende sakeman van die dorp, het ná sy onplesierige ervaring met die manne in blou besluit dis tyd om die swaargewig in regskringe William Booth nader te trek in sy stryd teen die polisie.

Volgens Van der Berg is hy op 16 Julie deur polisiebeamptes aange­rand. Op raad van sy regsverteenwoor­diger wou hy die saak by Melkbos­strand-polisiekantoor aanmeld, maar is later weer deur dieselfde groep beamp­tes van die pad getrek en met die dood gedreig. Dié sakeman vertel hy is glo met ’n vuurwapen teen die kop aange­rand en gewelddadig in ’n vangwa ge­boender. “Die polisiebeamptes het gesê ek is ’n dwelmhandelaar wat hulle nie kan vas­trek nie. Ek het vir my lewe gevrees, want die beamptes het geen geheim daarvan gemaak dat hulle ‘nog nie klaar is met my nie’,” vertel hy.

“Die polisiemanne terroriseer my reeds al ’n geruime tyd omdat hulle nie kan vrede maak dat ek nie in die strik van dwelms en bende-aktiwiteite verval het nie,” meen Van der Berg.

Volgens Charmane Mbatha, woord­voer­der en vennoot van Van der Berg, was hy glo mediese- en regshulp deur die polisiebeamptes aan diens geweier, hy is die volgende dag deur Booth byge­staan. Booth het bevestig hy is deur Van der Berg aangestel om klagtes van aanran­ding, regsverydeling en onreg­matige inhegtenisneming teen die polisie te bring. Hy het ook bevestig hy hanteer die siviele eis wat deur sy kliënt teen die polisie aanhangig ge­maak is.

Dit is nie die eerste keer wat die Atlantis-polisie van polisiebrutaliteit en hardhandigheid beskuldig word nie. Weskus Nuus het in die afgelope jare oor verskeie voorvalle berig.

Najoeah Louis (39) is ook een van die polisie se vermeende slagoffers. Sy het ’n strafregtelike saak teen die polisie aanhangig gemaak nadat sy glo onder polisielede se vuiste deurgeloop het.

Volgens Louis is sy en familie op 19 Julie deur polisielede van die pad getrek. Sy sê die beamptes het haar aangerand omdat haar seun volgens hulle ’n moordenaar is. “Ek het net gevra hoekom sluit julle hom dan nie toe as hy ’n moordenaar is nie,” vertel Louis. Sy sê na dié vraag was die duiwel los. Sy vertel die beamptes het haar verneder deur haar te versoek om haar broek af te trek. Volgens Louis is sy ná middernag vrygelaat en moes huis toe loop.

Peter Stoffberg, gemeenskapsaktivis wat ook onder “ ’n jaloerse speurder” deurgeloop het, het Louis se voorval by die Suid-Afrikaanse menseregte­kom­missie aangemeld. Stoffberg dring aan dat die Atlantis-polisie se gedrag deur die provin­siale polisie ondersoek moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article