Die opmars op 9 Augustus 1956, ’n inspirerende vertoning van politieke mag, is ’n herinnering aan die vroue wat Suid-Afrika help vorm het en die baanbreker-vroue wat vandag steeds die land na groter hoogtes lei.

Vrouedag in Suid-Afrika bring hulde aan ons nasie se vroue wat die stryd teen die destydse regering help voer het. Hierdie openbare vakansiedag, wat sedert 1994 gevier word, herdenk ’n optog in 1956 deur lede van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue.

Sowat 20 000 vroue het destyds na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ’n petisie met meer as 100 000 hand-tekeninge by die kantoor van die eerste minister, J.G. Strijdom, in te handig. Die vroue het 30 minute lank buite die gebou in stilte gestaan.

Ter herinnering is ’n lied gekompo­neer om hierdie geskiedkundige geleentheid te herdenk: “Wathint’ Abafazi Wathint’ imbokodo!” – noudat jy die vroue aangeraak het, het jy ’n rots getref. Sedertdien het die frase, “you strike a woman, you strike a rock,” die moed en krag van vroue toenemend verteenwoordig. Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika word hooggeag en dien as ’n herinnering aan die bydraes van vroue in Suid-Afrika en is terselfdertyd ’n geleentheid om opnuut te besin oor die regte van vroue. Hierdie dag word jaarliks in Suid-Afrika gevier ter herinnering aan die bydrae wat vroue tot die gemeenskap gelewer het en dit wat hulle vir vroueregte vermag het. Daarmee word ook erkenning gegee aan die moeilike pad wat vroue gestap het en steeds stap.

Atlantis het in sy eie reg ook baanbrekervroue opgelewer in die Apartheidstryd soos Sylvia Brand, Rebecca Davids, Sybil Mackina en vele ander wat Atlantis ’n beter plek help maak het. Leiers wat vandag ’n groot rol speel in die bemagtiging van vroue en kinderregte en ook rolmodelle is, is Barbara Rass, Cynthia Clayton en Fiona Abrahams. Ons is ook bevoorreg om geestelike leiers in die vorm van pastore Hester Moses, Denise Hiniker, Kathy Roman, Petronella Maclean, Lenie Maya, Veronica Daniels, Priscilla Cloete, Charlene Olivier en “Extreme Youth” se leier Michelle Fortuin wat ons mense bedien. Ook in die vermaaklikheids­wêreld is daar vroue soos Neorisha Julius, Che-V, Talitha, Tashna-B en ons eie Idols-wenner Sasha-Lee Davids wat kop bo skouer bo ander uitstaan.

Atlantis het menige vroueleier wat aan die hoof staan van kleuterskole en ander ondernemings. Ons het ook sportvroue soos Sharon Lombard, Amelia Molligan, die tweeling Kesha en Chelsea Williams, Caylen Lombard, Natasha van Vuuren en Christel Cookson wat presteer en ’n rolmodel vir baie ander vroue en kinders is.

Ons salueer ook vroueleiers en gemeenskapsaktiviste soos suster Kiepie, Barbara van Bo, Annie Moses, Veronica Daniels, Pamela Markus, Rachel Watson, Fostine Snyman, Lydia Samuels, Caroline Scheepers, Bedrika Daniels, Maggie Vaas, Glodene Smith, Patricia Lombard, Sharon Regter, Oslyn Benson, Belinda Valentine, Sarie Godfrey, Aziza Angus Phillips, Angela Peake, Olivia Pharo, Anne Frans, Charmaine Hansen, Avril Losper, Aunty Queenie, Wyle Maureen Pick, wyle Annie Herwel en vele ander.

Atlantis is voorwaar geseënd met vroueleiers wat die gemeenskap met trots en durf dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article