Geralda van der Merwe (28) en Amber Saas (20) van Mamre was onder die brandbestryders wat onlangs vir hul harde werk die afgelope brandseisoen vereer is.Foto: Yaël Malgas


Dit sit nie in enigeen se broek om vlamme en brande te bestry nie, maar die manne en vroue wat dié werk doen, is Dinsdag 30 April vir hul werk vereer.

Onder die brandbestryders by die geleentheid was Geralda van der Merwe (28) en Amber Saas (20) van Mamre. Dié twee het verlede Welwillendheidsdag ’n brand in Ganzekraal naby Mamre help blus.

“Dit is vreesaanjaend om die donker in te gaan met net ’n koplig en jou span, maar dit is ons passie,” sê Saas.

Hulle is deel van die brandweerspan by CapeNature se Ganzekraal-reservaat en hoop om uiteindelik volwaardige brandweervroue te word.

Die vroue was deel van die 240 brandbestryders wat veldbrande beveg en wie se harde werk die afgelope brandseisoen onlangs by die Jonkershoek-natuurreservaat gevier is.

Dié brandbestryders het die afgelope seisoen met die hulp van vennote infrastruktuur, biodiversiteit en lewens gered van vlamme oor die provinsie heen.

Not all heroes wear capes, want soms dra hulle brandweerpakke,” het Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gesê.

Duisende hektaar – van die Wynlande tot die Weskus – het die afgelope jaar gebrand en is feitlik daagliks deur helde soos Saas en Van der Merwe  bestry.

Dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature, sê die toewyding wat brandbestryders vir hul werk het, is merkwaardig. Om berge en bosse alle ure van die dag en nag in te vaar en 24 uur lange skofte aan te durf, sit nie in enigeen se broek nie.

Die afgelope brandseisoen was van die ergstes in onlangse jare, met 185 000 ha wat net in een voorval gebrand het.

“Ten spyte van die moeilike brandseisoen is daar ’n ligpunt – ons het geen lewensverlies gehad nie. Dit is besonders en spreek van die uitmuntende werk wat julle gedoen het,” het Bredell gesê.

CapeNature het sy vennote vir hul bystand bedank, waaronder die distriksmunisipaliteite van die Overberg, Weskus en Kaapse Wynlande, die organisasie “Werk met Vuur” en die personeel wat dit vir brandbestryders moontlik maak om hul werk te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article