’n Rooi Golf-motor en wit Isuzu-bakkie het omstreeks 22:30 Saterdagaand in Charl Uys-Laan, naby die sirkel in die industriële gebied, gebots.Foto: Murphy Roberts


’n Kerkuitstappie na Fisantekraal het tragies vir die Esau-familie geëindig toe die bakkie waarin hulle gery het in ’n kop-aan-kop-botsing met ’n rooi Golf betrokke was. Vier mense is dood.

Benewens die oorledenes is sewe ander insittendes beseer. Twee van die beseerdes is in ’n ernstige toestand.

Johannes Esau (83) van Atlantis en drie van die Golf se insittendes is op slag dood nadat die bestuurder van die motor vermoedelik beheer verloor het.

Volgens Jayden Moses (17), wat die gru-ongeluk oorleef het, het hy en nog 11 ander jongmense en kinders agter in die bakkie gesit toe die ongeluk plaasgevind het.

Hy sê hy het nie juis gesien wat gebeur het nie, maar sê die impak het bakkie se kappie én die insittendes afgeslinger.

Die ander passasiers is ongedeerd.

Moses vertel sy oupa het aan sy seun, wat die bakkie bestuur het, gesê hy moet die bome-pad vermy omdat dit donker was.

Esau het glo voorgestel dat die groep deur die industriële gebied ry.

Volgens ’n My CiTi-busbestuurder wat anoniem wou bly, het die rooi kar ’n paar keer met ’n “stink spoed” in Charl Uys-laan op en af gejaag. Volgens ’n bron op die toneel moes die rooi voertuig teen ’n vinnige spoed gery het aangesien die motor se spoedmeter na bewering op 140 km/h met die impak gebreek het.

Die drie insittendes in die rooi motor, Deon Abrahams (38), Cheznie Adams (26) en bestuurder Grant Slingers (25) moes almal deur reddingswerkers uit die wrak gesny word.

Die bron meen die nuwe dice pitch in die industriële gebied kon moontlik ’n rol in die ongeluk gespeel het aangesien dié drie vermoedelik na die pitch op pad was.

Dié bewerings kon nie bevestig word nie, maar dat daar wel gedice word, is deur ooggetuies op die toneel bevestig.

Abrahams se verloofde en haar dogter, wat met Slingers in ’n verhouding is, het op die toneel gesê die Golf was onlangs vir herstelwerk nadat dit vir ses maande buite aksie was.

Die familielid sê hulle het die twee gesoebat om eerder die kar te parkeer nadat hulle ’n paar draaie gery het. Die familie het begin bekommerd raak toe die mans te lank wegbly.

Die familielid sê hulle het die twee gebel, maar hul fone was almal af en het toe gery om die span te soek toe hulle op die toneel afkom.


. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, word ’n klagte van strafbare manslag ondersoek. Volgens die polisie is 15 mense in die voorval beseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article